Bible Society of South Africa

Dag 45 – Spreuke van Salomo

Lees die spreuke van Salomo.

Bybelteks(te)

1'n Mens kan sy voornemens hê,

maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.

2In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg,

maar die Here ondersoek die gesindheid.

3Laat wat jy doen, aan die Here oor,

dan sal jou voornemens geluk.

4Die Here het alles gemaak met 'n doel,

ook die goddelose vir die dag van straf.

5Die Here het 'n afsku van 'n verwaande mens;

dit staan vas: so 'n mens sal nie ongestraf bly nie.

6Liefde en trou bring versoening

waar daar verkeerd gehandel is;

kwaad word vermy deur die Here te dien.

7As die Here tevrede is met 'n mens se lewe,

laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe.

8Liewer min hê en reg lewe

as baie inkomste hê deur onreg.

9'n Mens beplan sy pad,

maar die Here bepaal hoe hy loop.

10As die koning praat, is dit met Goddelike gesag;

as hy uitspraak lewer, maak hy nie fout nie.

11Die norme vir die regspraak kom van die Here af;

Hy bepaal die maatstawwe.

12Konings het 'n afsku van verkeerde dade,

want 'n troon word deur regverdigheid bestendig.

13Eerlike mense geniet die koning se goedgesindheid;

hy hou van mense wat die waarheid praat.

14Die woede van die koning dra die boodskap van die dood;

'n wyse mens bring dié woede tot bedaring.

15As die koning vriendelik is, is jy seker van jou lewe;

sy goedgesindheid is soos 'n wolk wat lentereëns bring.

16Probeer liewer wysheid bekom as goud,

liewer insig as silwer.

17Opregte mense vermy die kwaad op hulle lewensweg;

wie nougeset lewe, hou homself in die lewe.

18Op hoogmoed volg ondergang,

op selfverheffing volg die val.

19Liewer eenvoud saam met nederiges

as om saam met hoogmoediges van roof te lewe.

20Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet;

wie op die Here vertrou,

met hom gaan dit goed.

21'n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem,

en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer.

22Insig is 'n bron van lewe vir wie dit het;

onderrig deur dwase bly dwaasheid.

23'n Wyse mens praat verstandig

en kies sy woorde so dat hy ander kan leer.

24Aangename woorde is heuning,

soet en geneeskragtig vir die mens.

25Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk,

maar die uiteinde daarvan is die dood.

26'n Werker se honger laat hom werk,

sy behoefte aan kos dryf hom.

27'n Kwaadwillige mens bring net teenspoed;

wat hy sê, is soos 'n verterende vuur.

28Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis,

iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.

29Iemand wat niks ontsien nie, mislei sy naaste

en laat hom 'n verkeerde pad loop.

30Wie met sy oog knik, wil die waarheid verdraai;

wie sy lippe saampers, is vasbeslote oor 'n boosheid.

31Ouderdom is 'n sierlike kroon;

dit word bereik deur dié wat reg lewe.

32'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter,

'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem.

33Mense kan loot,

maar die Here bepaal hoe dit uitkom.

1Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby

as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.

2'n Verstandige slaaf sal gesag kry oor 'n seun

wat 'n verleentheid is

en sal 'n erfgenaam word saam met die seun se broers.

3Silwer word in 'n smeltkroes gelouter en goud in 'n oond,

maar dit is die Here wat die gesindheid toets.

4Wie op onreg uit is, luister gretig na kwaadwillige woorde;

wie van valsheid hou, hoor graag woorde wat verderf saai.

5Wie met 'n arm mens spot, beledig sy Maker;

wie hom verheug oor die ongeluk van 'n ander,

sal self nie vrykom nie.

6Kleinkinders is vir oumense 'n trots;

vaders is vir hulle seuns 'n sieraad.

7Verstandige woorde soek jy nie by 'n dwaas nie,

nog minder leuens by 'n man van aansien.

8Vir wie dit gee, het omkoopgeskenke towerkrag;

vir hom moet dit sukses verseker waar hy ook gaan.

9Wie 'n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam,

soek goeie verhoudinge;

wie 'n saak bly ophaal,

bring verwydering tussen vriende.

10'n Enkele dreigement maak meer indruk op 'n verstandige mens

as honderd houe op 'n dwaas.

11'n Slegte mens is net op kwaad uit,

maar iemand sal gestuur word om hom te straf.

12'n Mens kan liewer 'n beerwyfie raakloop

wat van haar kleintjies beroof is,

as 'n dwaas met sy sotheid.

13As jy goed met kwaad vergeld,

sal die kwaad nooit uit jou huis wyk nie.

14Om rusie te begin, is om 'n damwal te breek;

staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.

15Die Here het 'n afsku van wie die skuldige onskuldig verklaar

én van wie die onskuldige skuldig verklaar.

16Watter nut het dit as 'n dwaas geld in die hand het

om wysheid te koop en hy het nie verstand nie?

17Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken;

jou broer is daar met die oog op jou nood.

18Dit is 'n mens sonder insig wat borg staan,

wat instaan vir die skuld van sy naaste.

19Wie hou van aanstoot gee, hou van rusie;

wie homself hoog aanslaan, soek sy eie ondergang.

20'n Vals mens sal nie voorspoed hê nie;

wie die waarheid verdraai, sal ondergaan.

21Daar wag hartseer vir die vader van 'n dwaas;

wie 'n ongemanierde seun het, het geen vreugde nie.

22'n Vrolike mens is 'n gesonde mens,

'n neerslagtige mens raak uitgeput.

23'n Goddelose mens bied omkoopgeskenke aan en verdraai die reg.

24'n Verstandige mens hou hom besig met wysheid,

maar 'n dwaas se gedagte dwaal doelloos rond.

25'n Onverstandige seun is vir sy ouers 'n ergernis,

hy is vir hulle 'n bitter verdriet.

26Selfs al beboet jy 'n onskuldige mens net, is dit verkeerd,

en om 'n man van aansien te laat slaan, druis in teen die reg.

27Wie die kennis het, kan spaarsaam met sy woorde wees;

'n mens met insig bly kalm.

28As 'n dwaas nie praat nie, kan selfs hy aangesien word vir 'n wyse,

en as hy sy mond toehou, vir 'n verstandige mens.

1Die selfsugtige mens lewe net vir homself,

hy verwerp alle oorlegpleging.

2Die dwaas stel nie belang in insig nie,

hy wil net sy eie opinie bekend maak.

3Waar daar goddeloosheid kom, kom daar krenkende optrede,

en saam met die belediging kom die skande.

4Die woorde van 'n mens kan diep waters wees,

'n bruisende stroom, 'n bron van wysheid.

5Dit is nie goed om partydig te wees vir die skuldige

en om die onskuldige sy reg te ontsê nie.

6'n Dwaas praat hom in 'n rusie in,

hy soek slae met wat hy sê.

7'n Dwaas se mond is sy ondergang,

sy eie woorde is 'n dodelike strik.

8Skinderstories word gretig verslind;

mense sluk dit so maklik.

9Een wat nalatig is met sy werk

en een wat alles afbreek, is tweelingbroers.

10Die Naam van die Here is 'n sterk vesting;

die regverdige vind daar skuiling.

11Die ryk man sien sy besittings as sy vestingstad,

as 'n hoë muur wat hom beskerm.

12Op selfverheffing volg ineenstorting,

op nederigheid eer.

13Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het,

is dwaas en kom in die skande.

14Moed laat 'n mens sy lyding dra;

as hy moed verloor het, kan niemand hom dit weer gee nie.

15'n Mens met insig doen kennis op;

wyse mense hou hulle ore oop vir kennis.

16'n Geskenk maak vir 'n mens die pad oop

en gee hom toegang tot mense met mag.

17Iemand wat in 'n regsaak eerste praat, is altyd onskuldig,

maar dan kom iemand anders en ondervra hom.

18Deur 'n beslissing van die Here te vra, kan rusies besleg

en sterk mense uitmekaar gemaak word.

19'n Veronregte broer is ontoegankliker as 'n vestingstad;

rusie is soos die sluitbalk van 'n fort.

20Deur die regte woorde te gebruik, kan 'n mens sy honger stil,

hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê.

21Die tong het mag oor dood en lewe;

dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

22Wie 'n vrou kry, vind geluk

en geniet die goedheid van die Here.

23'n Arm mens pleit,

'n ryke antwoord skerp.

24Maats kan jou breek,

maar daar kan ook 'n vriend wees

wat nader is as 'n broer.

SPREUKE 16:1-18:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS