Bible Society of South Africa

Dag 47 – Jeremia se roeping en boodskap

Lees oor hoe God vir Jeremia roep.

Bybelteks(te)

Die tyd van sy optrede

1Die woorde van Jeremia. Hy was 'n seun van Gilkija en 'n priester uit Anatot in Benjamin.

2Die woord van die Here het tot hom gekom tydens die regering van koning Josia van Juda, seun van Amon. Dit was in die dertiende regeringsjaar van Josia. 3Daarna het die woord van die Here tot Jeremia gekom tydens die regering van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, en telkens tot die einde van die elfde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, seun van Josia. In die vyfde maand van daardie jaar is die inwoners van Jerusalem in ballingskap weggevoer.

Jeremia word tot profeet geroep

4Die woord van die Here het tot my gekom:

5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

6“Ag, Here my God,” het ek geantwoord,

“ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”

7Toe sê die Here vir my:

Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.

Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,

en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.

8Moenie vir hulle bang wees nie,

want Ek is by jou, Ek sal jou red.

Dit is wat die Here gesê het.

9Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak

en vir my gesê:

Ek het nou my woorde in jou mond gelê.

10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

11Die woord van die Here het tot my gekom: Wat sien jy, Jeremia?

Ek het geantwoord: “Ek sien 'n amandeltak.”

12Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.

13Die woord van die Here het 'n tweede keer tot my gekom: Wat sien jy?

Ek het geantwoord: “Ek sien 'n kokende pot in die noorde en dit kantel oor hiernatoe.”

14Toe sê die Here vir my:

Van die noorde af gaan Ek 'n ramp stuur

oor almal wat in hierdie land woon.

15Ek gaan alle volke, alle koninkryke van die noorde af roep,

sê die Here.

Hulle konings sal elkeen sy troon kom oprig

voor die poorte van Jerusalem,

by die mure rondom die stad en by al die stede van Juda.

16Ek sal die mense van Juda straf vir al hulle sondes:

hulle het My verlaat, vir ander gode offers gebring

en voor hulle eie handewerk

in verering gebuig.

17Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë.

18Ek maak jou vandag 'n vestingstad, 'n ysterpilaar,

'n bronsmuur sodat jy staande kan bly teen die hele land, teen die koningshuis van Juda en al sy amptenare,

teen sy priesters en teen die bevolking.

19Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie,

want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red.

My volk het My vergeet

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor.

So sê die Here:

Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug;

hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het,

toe jy My die woestyn in gevolg het,

in 'n wêreld waar niks geplant word nie.

3Israel was toe aan die Here gewy

soos die eerste vrugte van die oes.

Niemand wat hierdie vrugte geëet het, het ongestraf gebly nie,

rampe het hom getref, sê die Here.

4Hoor die woord van die Here, mense van Jakob,

al julle stamme van Israel!

5So sê die Here:

Waarin het Ek gefaal

dat julle voorvaders van My af weggedraai het,

dat hulle nikswerd afgode gedien het en so self niks geword het?

6Hulle het nie gevra: “Waar is die Here

wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie.

Hy het ons deur die woestyn gelei,

deur 'n droë wêreld vol slote,

deur 'n dor land vol doodsgevaar,

deur 'n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie.

7Ek het julle in 'n vrugbare land gebring

om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet,

maar toe julle in my land gekom het,

het julle dit verontreinig;

die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.

8Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie,

dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie.

Die regeerders het hulle teen My verset,

die profete het in die naam van Baäl opgetree

en gode gedien wat nie kan help nie.

9Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here,

en ook jou nakomelinge kla Ek aan.

10Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk 'n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na:

Het daar al ooit so iets gebeur,

11dat 'n nasie sy gode verruil het,

selfs al was hulle geen gode nie?

Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil

vir gode wat nie kan help nie.

12Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here.

13My volk het twee sondes begaan:

Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat,

en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap,

waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.

14Het Israel 'n slaaf geword of is hy 'n slaaf gebore?

Waarom is hy dan buitgemaak?

15Waarom brul en grom die leeus so teen hom?

Waarom is sy land verwoes en lê sy stede in puin,

sonder inwoners?

16Die manne van Memfis en Tagpanges sal jou kop inmekaarslaan.

17Jy het jou dit self aangedoen

omdat jy My, die Here jou God, verlaat het

toe Ek jou op jou pad gelei het.

18Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan

en water uit die Nyl te gaan drink?

Wat wil jy bereik deur na Assirië toe te gaan

en water uit die Eufraat te gaan drink?

19Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word;

omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly.

Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is,

jy sal proe hoe bitter dit is om My,

die Here jou God, te verlaat,

om geen eerbied meer vir My te hê nie,

sê die Here God, die Almagtige.

20Jy het my gesag lankal verwerp,

jou van My losgemaak, geweier om My te dien;

jy het op elke hoë heuwel

en onder elke groen boom aan tempelprostitusie deelgeneem

en so die afgode gedien.

21Toe Ek jou geplant het,

was jy 'n goeie wingerdstok, opreg gekweek,

maar hoe het jy nie verander in onkruid,

in 'n wilde wingerdstok nie!

22Al sou jy jou was met loog of met hoe baie seep,

Ek sal nog die vlekke van jou sonde sien, sê die Here my God.

23Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie,

ek het nie die Baäls gedien nie”?

Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal.

Besef tog wat jy gedoen het!

Jy was soos 'n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop,

24soos 'n wildedonkie wat tuis is in die woestyn.

Jy was soos 'n bronstige kameelkoei wat die wind opsnuif,

wat onkeerbaar is in haar hittigheid.

Die bulle wat haar soek,

hoef hulle nie moeg te hardloop agter haar aan nie;

wanneer sy wil paar, kry hulle haar maklik.

25Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie,

jou keel laat droog word van die dors nie!

Maar jy sê: “Ek sal nie daarmee ophou nie!

Ek het die vreemde gode lief, ek wil hulle dien.”

26Soos 'n dief in die skande kom wanneer hy betrap word,

so sal die Israeliete in die skande kom:

hulle, hulle konings, hulle amptenare,

hulle priesters en hulle profete.

27Dit is hulle wat vir 'n stuk hout sê: “My vader,”

en vir 'n klip: “U het my in die wêreld gebring.”

Na My toe het hulle hulle rug gedraai in plaas van hulle gesig.

Dit is net wanneer 'n ramp hulle tref

dat hulle sê: “Kom red ons tog!”

28Waar is jou gode wat jy vir jou gemaak het?

Laat hulle jou kom red wanneer 'n ramp jou tref, as hulle kan!

Soveel stede as wat jy het, Juda, net soveel gode het jy.

29Waarom twis julle met My?

Julle het almal teen My in opstand gekom, sê die Here.

30Tevergeefs het Ek julle kinders gestraf,

hulle het nie 'n les daaruit geleer nie.

Soos leeus wat alles verskeur,

het julle julle profete doodgemaak.

31Slaan ag op die woord van die Here, my volk!

Was Ek dan vir Israel soos 'n woestyn

of soos 'n stikdonker land?

Waarom het my volk dan gesê:

“Ons rebelleer, ons wil U nie meer dien nie”?

32Vergeet 'n meisie haar juwele of 'n bruid haar trourok?

Tog het my volk My jare gelede al vergeet.

33Hoe geoefen is jy in die kuns om minnaars te soek;

jy het al so gewoond geraak aan die kwaad!

34Die some van jou klere is vol bloed,

die bloed van arm en onskuldige mense,

nie dié van mense wat jy op inbraak betrap het nie.

En ten spyte van dit alles 35sê jy:

“Ek is onskuldig; die Here is nie toornig op my nie.”

Maar Ek gáán jou straf omdat jy gesê het:

“Ek het nie gesondig nie.”

36Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid!

Egipte sal jou net so in die steek laat

as wat Assirië jou in die steek gelaat het.

37Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het,

want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het;

by hulle sal jy geen hulp kry nie.

Kom terug!

1Die Here vra: Mag 'n man

as hy van sy vrou skei

en sy hom verlaat en 'n ander man se vrou word,

na haar toe teruggaan?

Sou die land nie vreeslik verontreinig word nie?

En jy wat by so baie minnaars geslaap het,

wil jy na My toe terugkom? vra die Here.

2Kyk op na die heuweltoppe:

waar het jou minnaars nie by jou geslaap nie?

Langs die paaie het jy vir hulle gesit en wag

soos 'n Arabier in die woestyn,

en jy het die land verontreinig met jou onsedelikheid,

met jou slegte gedrag.

3Daarom het Ek die reënbuie teruggehou

en het die vroeë reëns nie gekom nie,

maar jy het soos 'n hoer geen berou getoon nie,

jy het geweier om jou te skaam.

4En nou noem jy My skielik: “My vader,”

en sê jy: “U is my vriend vandat ek 'n kind was.

5Sal U vir altyd kwaad wees, vir altyd toornig wees?”

Dit is wat jy gesê het,

maar jy het verkeerd bly doen net waar jy kon.

JEREMIA 1:1-3:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS