Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 9

Sy heerskappy in my maak my lig

Bybelteks(te)

14“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie;

MATTEUS 5:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

15Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld

FILIPPENSE 2:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Vader getuig ook oor Jesus

12Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

JOHANNES 8:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die eerste paar dagstukke het ons gekyk na wat God in ons doen, maar nou gaan ons fokus op hoe sy “koninkryk in ons” ʼn invloed op ons en die wêreld kan uitoefen.

Sy koninkryk in ons het ʼn implikasie: Ons moet soek hoe om dit “sigbaar te maak” na buite deur die manier waarop ons leef. En hiermee help die Heilige Gees ons. Hy leer ons hoe om onder andere lig, sout en geur in die wêreld te wees.

Hierdie drie metafore verwys na die positiewe en behoudende invloed wat ek en jy as gelowiges op mense uitoefen. Ons gaan vandag kyk na wat dit beteken om lig te wees.

Jesus het op ʼn keer gesê: “Ek is die lig vir die wêreld.” (Johannes 8:12) Hy koppel Homself aan ons met hierdie metafoor as Hy sê ons is die lig van die wêreld wat vanaf ʼn berg of staander skyn vir almal om te sien (Matteus 5:14-16). Verstaan jy dat sy teenwoordigheid ín jou die lig is wat deur jou gereflekteer word en dat jy nie lig opsigself is nie? Miskien verduidelik ʼn beeld uit die natuur dit beter: Die maan is nie ʼn lig opsigself nie, maar weerkaats die lig van die son wat daarop skyn; hoe nader die maan aan die son in sy wentelbaan beweeg, hoe helderder skyn die maan. Leef jy naby genoeg aan die Lig dat mense die lig in jou kan sien?

Blare absorbeer (son)lig wat fotosintese veroorsaak by plante. Dit behels die omskakeling van ligenergie in “brandstof” sodat die plant se aktiwiteite aan die gang gehou word. Op dieselfde wyse het ek en jy die Lig nodig om lewe te hê en dit in oorvloed (Johannes 10:10). Maar, net so belangrik, ons moet in sy lig staan om te doen wat Filippense 2:15 ons leer: “Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.” Dit is jou roeping om so naby aan die Lig te leef as wat jy kan sodat jou lewe lewegewende lig kan uitstraal vir diegene wat in donkerte sit.

Of bedek jy jou lig met ʼn lap deur ʼn onbetrokke en afgewaterde verhouding met die Here te hê? Dan verloën jy die Lig in jou lewe en doen jy die mense met wie jy daagliks in aanraking kom ʼn groot onreg aan. Jy laat hulle met oop oë in stikdonkerte voortstrompel terwyl ʼn toegegooide lig langs hulle staan!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS