Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 10

Sy koninkryk in my maak my sout

Bybelteks(te)

Die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld

13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.

MATTEUS 5:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Sout en vrede

49“Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.

50“Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal 'n mens dit weer sout maak?

“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.”

MARKUS 9:49-50AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus sê in Matteus 5:13: “Julle is die sout van die aarde. Maar as die sout verslaan het (“sy krag verloor het” in Markus 9:50), hoe kry ʼn mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”

Ons het gister gesels oor hoe ek en jy as ligdraers met God saamwerk om sy heerskappy op aarde “sigbaar” te maak in die manier waarop ons leef. Vandag kom die metafoor sout aan die beurt.

In bybelse tye was sout beskou as ʼn simbool van konstantheid en getrouheid en daarom is dit gebruik om ooreenkomste te bevestig. Israel het dit ook in hulle godsdiensbeoefening gebruik as teken van die ewige aard van hulle verhouding met God (Levitikus 2:13).

As Jesus dus die gelowige as die sout van die aarde proklameer, herinner Hy ons aan die konstante verbondsverhouding wat tussen Hom en ons bestaan. Ons “sout-bly” en “sout-wees” word óns beantwoording aan sy verhouding met ons.

Israel se sout was afkomstig van die suidelike oewers van die Dooie See (Sefanja 2:9) en was van ʼn rots- of fossielvariëteit afkomstig wat sy chemiese kwaliteite kon verloor. Jesus trek hierdie kennis in sy proklamering van ons as sout in as Hy sê: “Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê …” (Markus 9:49-50) Ons suiwerheid en smaak word gekontamineer as ons ons kenmerkende geloof verloën of as ons leefwyse geskoei word op enigiets anders as Godwaardes soos dit in die Woord opgeteken is.

Sout werk verrotting teë, daarom kan die Christusgelowige ʼn invloed op die wêreld uitoefen. Ons “andersheid” – die manier hoe ons leef, met mense omgaan, besigheidstransaksies beklink, of doodgewoon net as ambassadeurs van die enige God optree – werk bederfwerend in op ons eie lewens en strooi sout oor ʼn smaaklose wêreld.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS