Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 6

Blydskap in Hom beskerm

Bybelteks(te)

10Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.

11Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”

NEHEMIA 8:10-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

In ʼn vorige dagstuk het ons gesê dat die heerskappy van God in jou lewe deur onder andere vreugde gekenmerk word. Maar hoe gemaak as hartseer, siekte, eensaamheid of selfs jou leefwyse die blydskap in jou demp?

In hoofstuk 8 van Nehemia het die volk Israel bymekaar gekom om te luister hoe Esra die priester uit die wetboek van Moses voorlees en dit verduidelik sodat hulle dit kon verstaan. Hulle het die inhoud daarvan verstaan en begin huil (vers 10), maar Esra het hulle aangemoedig om liewer bly te wees en te gaan fees vier. Vreemd? Nee, Esra het geweet dat jou oë en ore oopgemaak word om te hoor wat die Here vir jou persoonlik wil sê wanneer ʼn mens na die Woord luister en dit begin verstaan. En dít is rede om fees te vier!

Soms hét jy egter nodig om te huil oor dit wat jy hoor en lees, want die Woord het inhoud wat met jou praat – dikwels oor dinge in jou lewe wat in lyn daarmee moet kom. As jy berou het oor hierdie dinge, vra sonder uitstel vergifnis daarvoor! Die Here waarborg immers vergifnis (1 Johannes 1:9). Beskou dit dan as afgehandel en maak van hierdie geleentheid ʼn feesviergeleentheid, want dan kan jy ook sê, soos ons teksvers vir vandag: “Hierdie dag is heilig aan die Here julle God; treur nie en ween nie!”

Maar wanneer die Woord ʼn realiteit in jou lewe word, bemoedig dit ook: Vir die eensame en hartseer mens is die Heilige Gees die Trooster; vir die bekommerde mens is die hemelse Vader die Voorsiener; vir die een in pyn is Hy die Geneesheer en vir die kleingelowige is Jesus die Begin en Voleinder van sy geloof. Kortom, die teenwoordigheid van die Drie-eenheid sélf word ons Bron van vreugde. Is dit nie genoeg rede om hande te klap en jubelend jou stem in sang te verhef nie?

Jy hét rede om bly te wees en fees te vier. Hy is alles wat jy nodig het! Blydskap in Hom beskerm jou!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS