Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 5

Met God sien jy kans vir ʼn bende

Bybelteks(te)

30Met u hulp loop ek 'n oormag storm,

met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.

PSALMS 18:30AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.

1 JOHANNES 4:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ek dié verse lees, sien ek ʼn prentjie van ʼn kordate driejarige seun met sy pa of ouboet aan die hand wat met mannemoed en liggaamshouding reg staan om ʼn paar boelies uit te sorteer. Nodeloos om te sê, dis nie die seun wat die geveg gaan wen nie, maar die teenwoordigheid van sy pa of ouer broer wat hom dapper genoeg maak om so ʼn taak aan te pak.

As sondige mense die gelowige se lewe moeilik maak kan ʼn mens dit nog verstaan, maar wanneer medegelowiges, familie, of vriende jou die stryd aansê, raak dit jou hart en jou menswees. Moet egter nie wanhopig raak nie! Jy is in goeie geselskap: Paulus se medewerker Demas verlaat hom en die gemeente van Korinte bevraagteken sy integriteit. Dawid moet vlug voor sy eie seun Absalom en toe hy siek is, lig die man met wie hy in vrede leef sy hakskeen teen hom. Jesus word geminag deur sy eie volk en sy dissipels ontken dat hulle sy volgelinge is deur te vlug in sy grootste uur van nood.

Hoe gemaak as die soort ding ook oor jou pad kom? Onthou eerstens: “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” Ja, God is altyd by ons: Ons is sy tempel waarin Hy woon en onder wie Hy wandel. Hy is ons God en Vader en ons is sy volk en sy kinders (2 Korintiërs 6:16-18). Juis daarom kan en moet ons hierdie dinge met ʼn Jesus-gesindheid hanteer.

In die tweede plek moet jy besef dat God aan jou kant is. Jy staan nooit alleen in enige krisis nie. Soos daardie klein seuntjie kan jy gerus jou hand met vertroue in syne plaas – met Hom aan jou kant vorm julle ʼn verenigde front teen enige bende wat op jou afstorm.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS