Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 4

Sy krag in ons laat ons stewig vasstaan

Bybelteks(te)

Die Christen se wapenrusting

10Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

EFESIËRS 6:10-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons assosieer krag gewoonlik met iemand wat swaar gewigte optel, vragmotors met ʼn band om sy middellyf kan trek of iemand wat mense soos lappoppe rondgooi op ʼn stoeimat. Maar dis bloot fisiese krag en kan niks vermag teen die werklike onsigbare wêreld wat deel van ons bestaan is nie.

Paulus skryf die volgende oor hierdie onsigbare wêreld waarteen ons stry: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12)

Jou geveg teen jou eie dwaalgedagtes, jou spanningsvolle verhoudinge, jou onvermoë om te vergewe of lief te hê, jou gebrek aan selfbeheersing en sommer al die jakkalsies wat jou wingerd verniel, is dikwels die werk van die magte van die onsigbare geesteswêreld vir wie jy jou geestelike ore uitleen. Hulle maak sonder ophou op jou totale menswees ʼn aanslag, want die vyand se strategie is om jou moeg te maak en van stryk te bring totdat jy so swak is dat jy sukkel om “op jou pos te bly” en uiteindelik wil opgee.

Maar moenie opgee nie! Luister wat sê Paulus: “Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.” (Efesiërs 6:10-11)

Hierdie krag is nie die soort wat kragmanne demonstreer nie, maar dit is ʼn krag wat in jou leef en dit word geaktiveer deur jou aktiewe verhouding met die Bron daarvan – God. Sy krag laat jou voete vasstaan, stel jou in staat om met vertroue jou wapenrusting aan te trek, en om met jou wapens van aanval en verdediging – die Woord en die Gees – kolskote op die vyand af te vuur.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS