Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 3

Christus in ons verlos ons

Bybelteks(te)

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

ROMEINE 7:24-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

2 KORINTIËRS 5:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.

JOHANNES 16:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God,

ROMEINE 7:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

ROMEINE 7:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al dinge bedink wat jou laat skrik vir jouself en jou laat wonder hoe op dees aarde iemand wat bely dat hy in ʼn verhouding met die Here staan, sulke dinge kan dink? Of dalk het jy, wat so bedag is op hoe jy mense hanteer en met hulle praat, jou selfbeheersing verloor en daarna uit verleentheid gewens dat jy jou kop in die sand kan druk?

Waarom hierdie dualisme in een mens? Die Woord beloof dan: “Iemand wat aan Christus behoort, is ʼn nuwe mens.” (2 Korintiërs 5:17) Natúúrlik het alles nuut geword, hoe anders sou jy so intens bewus kan word van hierdie toutrekkery tussen goed en kwaad en reg en verkeerd in jou? Dit is mos die Gees in en by jou wat jou “in die hele waarheid lei.” (Johannes 16:13)

Jy sien, ons het twee magte of wette wat in ons binneste baklei. In die eerste plek is daar die wet van die vlees waarin daar niks goeds woon nie (Romeine 7:18) en wat gedurig besig is om die (eie) ek te bemagtig. Dan is daar die wet van die gees wat op jou gemoed, jou innerlike, en jou wedergebore gees ʼn beroep doen om die goeie te doen.

Paulus het ook hierdie dualisme in sy lewe ervaar: “Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ʼn ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees” (Romeine 7:22).

Hy roep ook soos ek en jy uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Daarna gee hy die oorwinnende antwoord: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” (Romeine 7:24)

Ek en jy kan nie op ons eie ʼn goeie lewe lei wat die Here behaag nie. Nee, ons kan niks doen sonder Hom nie! As jy dus volgende keer weer bewus word van hierdie dualisme wat jou voos slaan, moenie kleinkoppie trek nie, maar lig jou kop op en roep om hulp: “Verlos hierdie ellendige mens van hierdie doodsbestaan, my Here en my God!”

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS