Dra vrug – Dag 2
Die Heilige Gees in jou getuig van jou geloof
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
JOHANNES 16
1 JOHANNES 4
1 JOHANNES 4
As Christen-gelowiges in wie die Heilige Gees woon, word ek en jy dikwels gekonfronteer met die “sinneloosheid” van ons geloof in die lig van vandag se filosofiese oortuigings. Hierdie “filosofiese rasionele denkers” verkondig ʼn ander Christus as die Een wie ek en jy leer ken het. Humanistiese leringe, die bevraagtekening van die Bybel as geïnspireerde Woord van God, die ontkenning van Jesus se maagdelike geboorte, en sy vleeswording en dood en opstanding, is gewoonlik hoog op die agenda van sulke mense.
Wanneer ons gekonfronteer word met dié soort uitlatings, moet ons onthou in Wie ons glo – in Jesus wat deur God uit die dood opgewek is (Romeine 10:9). Hiervan sal die Heilige Gees in jou ook getuig, want: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” (Johannes 16:13)
En nou die vraag: Hoe weet ek en jy dat dit nie ʼn misleiding of dwaalgees is wat in ons aan die werk is nie? “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus in die vlees gekom het, is uit God”. (1 Johannes 4:2) Ons hoef dus nie vol onsekerheid en twyfel rond te hardloop op soek na waarheid nie – die Waarheid leef ín ons! Ons kan die leuengeeste oorwin!
As Jesus Christus, God se Seun wat in die vlees aarde toe gekom het, vir jou ʼn realiteit in jou lewe geword het, is jy uit God gebore en is jy sy kind. Dan kan jy enigiets in die sondige wêreld oorwin, want “… Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Johannes 4:4)