Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 1

Die koninkryk van God in ons

Bybelteks(te)

Die koms van die koninkryk

20Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: “Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. 21Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle.”

LUKAS 17:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

20Die koninkryk van God is immers nie 'n saak van praatjies nie, maar van krag.

1 KORINTIËRS 4:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.

ROMEINE 14:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die eerste gedeelte van hierdie maand se dagstukke gaan ons kyk na wat God in die lewens van gelowiges doen. Wanneer ons ʼn kind van God word deur ons geloof in Jesus Christus, kom woon die Heilige Gees in ons en word ons deel van God se koninkryk. As mede erfgename saam met Jesus, word die beloftes in die Woord dus ook ons beloftes.

Maar wat presies is die koninkryk waarvan ons deel is?

In Lukas 17:20-21 (1983-vertaling) staan: “Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: ‘Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: “Kyk, hier is dit!” of: “Daar is dit!” nie, want die koninkryk van God is hier by julle’ ”. In die 1933/53-vertaling lees ons: “… die koninkryk van God is binne-in julle.”

Almal weet dat ʼn koninkryk ʼn plek is waar ʼn koning heers. Die koninkryk van God is dus ʼn plek waar God heers – ín en oor die lewens van sy “onderdane”. Jesus bevestig dat Hy die mense leer dat die koninkryk in hulle is. Hierdie koninkryk is nie sigbaar nie en is ook nie gekoppel aan ʼn geografiese ligging nie, maar dit is dinamies, ewig, groeiend en aktief betrokke in die lewens van mense wat Jesus Christus, die Koning, eer en in wie die Gees van die Koning leef.

ʼn Kenmerk van hierdie koninkryk in die gelowige is die krag van die Heilige Gees wat in jou werksaam is. Hierdie krag beskik onder andere oor die vermoë om jou nuut te maak en te verander sodat jy die heiligheid van die Koning wat in jou heers, kan weerspieël. Blote praatjies oor geloofskwessies het geen waarde in die koninkryk nie; die krag daarvan moet in jou lewe sigbaar wees: “Die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.” (1 Korintiërs 4:20)

Nog ʼn kenmerk van die Koningsheerskappy in jou lewe, is dat daar vrug sigbaar moet wees. Romeine 14:17 leer ons: “Die koninkryk van God is nie ʼn saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”

As gelowige is jy in ʼn baie gunstige posisie: Die heerskappy van God is in jou lewe teenwoordig maar jy moet voortdurend soek en streef daarna hoe om dit in jou lewe te realiseer (Lukas 12:31). Slegs dan kan jy vrug dra wat pas by die koninkryk.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS