Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 18

Dra vrug – vergewe

Bybelteks(te)

EFESIËRS 4

32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

EFESIËRS 4:32AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 6

14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

MATTEUS 6:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 7

60Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”

Met hierdie woorde het hy gesterwe.

HANDELINGE 7:60AFR83Maak oop in die Bybelleser

Waarom sukkel ons so om iemand te vergewe wat ons te na gekom het? Is dit dalk ons ego wat ons oortuig dat ons die reg het om kwaad te bly? Is dit ons verdraaide sin van geregtigheid dat “kwaadbly” die ander party straf? Dalk is ons te trots om die eerste treë te gee om verhoudinge te herstel?

Hoe dit ook al sy, ons weiering om te vergewe verbreek die eenheid wat die Gees onder ons as gelowiges gesmee het omdat ons nie die band van die vrede wil bewaar nie (Efesiërs 4:3). Maar dis nie al nie, wanneer ons nie wil vergewe nie, maak ons self die deur van vergifnis vir ons oortredinge by God toe: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie verewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Matteus 6:14-15)

Waarom hierdie skokkende waarskuwing? Want, as ons nie ander vergewe nie, ontken ons die een ding wat ons in gemeen het, naamlik dat ons sondaars is wat God se vergifnis nodig het. Hy vergewe ons nie omdat ons ander vergewe of een of ander wet onderhou nie, maar alleenlik as gevolg van sy groot genade. Soos ons teksvers vir die dag dit stel: Hy vergewe ons in Christus.

As jy dit verstaan, kom jy diep onder die besef dat jy eintlik ʼn geseënde van God is omdat jou sonde nie teen jou gehou word en jy daarvoor gestraf word nie (Romeine 4:7-8). Hoe kan ons dan weier om ander te vergewe? My vergifnis aan ander mense word my lofsang van dankbaarheid teenoor Hom omdat ek sy geseënde is en verder word my vergifnis ʼn refleksie van God se vergifnis vir alle mense.

Natuurlik kom vergifnis nie vanself nie. Dit is ʼn voortvloeisel van God wat in my werk om te wil vergewe … maar dit vra my samewerking: Ons moet sy “werk in ons” gehoorsaam en dan ʼn wilsbesluit neem om te vergewe. Dit is presies wat Stefanus gedoen het toe hy sterwend vir sy moordenaars bid: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” (Handelinge 7:60)

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS