Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 19

Dra vrug – gee

Bybelteks(te)

15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

HEBREËRS 13:15-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dankbaarheid wil jou laat goed doen aan ander, maar hoe doen ek goed aan God vir alles wat Hy in my lewe deur Jesus Christus gedoen het? Hoor wat leer ons teksvers vir die dag: bring offers.

Bring ʼn onophoudelike lofoffer aan God. Met my mond besing ek sy naam en prys ek Hom vir sy grootheid, genade en betrokkenheid in my lewe omdat ek deel van Christus is. Met my woorde getuig ek ook teenoor ander dat Hy die enige, ewige God is wat mense so liefhet, dat Hy sy Seun gegee het om hulle vry te koop.

ʼn Offer impliseer dat iets doodgemaak word vir ʼn spesifieke doel. Ek vind dit nodig om gereeld my eie ek, vrese, selftrots en traagheid dood te maak sodat Hy ʼn onbedorwe, suiwer offer van my lippe kan ontvang. Maar dan kom die besef: Die fondasie en aanvaarding van my lof lê slegs in die offer wat Jesus Christus gebring het – sy lewe! Dit is net deur Hom, in Hom, met Hom en tot Hom dat ek ʼn aanvaarbare lofoffer aan God kan bring.

Die tweede offer wat vir God aanneemlik is, is mededeelsaamheid en goeie dade – al weet niemand daarvan nie. Uit dankbaarheid vir die genade en seën van die Here in ons lewens, behoort ons eintlik oor ons eie voete te val om te gee, ongeag hoeveel jy besit. Die gemeente in Masedonië het byvoorbeeld oorvloedig gegee, al was hulle baie arm, want vir hulle was dit ʼn liefdesdaad om te gee. Die vrug van hulle mededeelsaamheid? Dit voorsien in ander se behoeftes, God word gedank en grootgemaak en hulle bid vir diegene aan wie hulle gee (2 Korintiërs 9:12-14).

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS