Bible Society of South Africa
Carina Francke

Dra vrug – Dag 16

Dra vrug – betoon liefde

Bybelteks(te)

34Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

JOHANNES 13:34-35AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.

JOHANNES 15:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

'n Goeie gewete voor God

18Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

1 JOHANNES 3:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons Skepper se koningskap in ons lewens word sigbaar gemaak deur die vrugte wat ons dra en die een gebod wat bo almal uitstaan: om mekaar lief te hê. Dit is die opdrag wat sê dat elkeen wat ons pad kruis in ons ʼn ander gesindheid, optrede, manier van praat, waardes en respek teenoor hulle sal raaksien.

Die gebod van die liefde is nie nuut in die sin dat ons mekaar moet liefhê nie – dit is ʼn opdrag sedert die vroegste tye (sien Levitikus 19:18) – maar dit is revolusionêr in die sin dat ons soos Jesus moet liefhê. Liefde is meer as warm gevoelens, soentjies en drukkies; dit is ʼn gesindheid wat homself openbaar in dade en in hoe jy teenoor ander optree. Die hart van Jesus se liefde is opofferend, selfs al het dit sy lewe gekos. Hy sê self: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” (Johannes 15:13)

Moet ons só liefhê? Ja! Is dit onmoontlik? Ja, indien ons dit self probeer doen. Om hierdie rede het die Vader die Heilige Gees aan ons gegee sodat Hy ons kan leer, help en lei om so lief te hê. Die vraag is egter: Hoe swaar steun ons op sy werking en inspraak in ons lewens en hoe gehoorsaam is ons in dit wat Hy vir ons sê?

Hoe leef ons die liefde prakties uit? Die antwoord is in 1 Johannes 3:18: “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” Ons kan dit ook doen deur hulp te verleen wanneer dit ongeleë is, deur te gee wanneer dit seermaak, om tyd en energie aan ander se welsyn eerder as jou eie te spandeer en om te reageer op dit wat die Gees op jou hart lê.

Wat is Jesus se doel met hierdie liefdesopdrag? Om op sigbare wyse aan almal, veral aan ʼn stukkende wêreld, te wys hoe mense lyk wat sy volgelinge is, hoe hulle teenoor mekaar optree, en hoe hulle mekaar dien, versorg en ondersteun. Wat is die groter doel hiermee? Ongelowiges moet deur hierdie liefde bekendgestel word aan die verbysterende en opofferende liefde van Jesus wat ʼn weg gebaan het sodat elkeen wat in Hom glo, uit die dood geruk kan word om deel te hê aan ʼn lewe in Hom.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS