Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 4

Die koste van diensbaarheid

Bybelteks(te)

MARKUS 10

38“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”

39“Ons kan,” sê hulle vir Hom.

Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.

MARKUS 10:38-39AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 PETRUS 2

21Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.

1 PETRUS 2:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is geen beter voorbeeld van ʼn dienskneg as Jesus Christus nie. Vandag se teksvers is ʼn bewys dat Jesus doelbewus gekies het om ʼn dienaar te word. Diensbaarheid het Jesus baie duur gekos, en dit geld ook vir ons.

Toe Jesus tydens die laaste paasmaaltyd met sy dissipels oor diensbaarheid gesels het, het hy nie probeer om hulle te oortuig dat dit ʼn maklike pad sal wees nie. Hy het onmiddellik na die “fynskrif” van die “kontrak” verwys: Daar is koste verbonde aan koninkryksdiens. Die taak wat aan die dissipels toevertrou is, was baie belangrik. Jesus benodig manne en vroue met diep geloofsoortuigings, mense met oë wawyd oop, harte wat oorloop van toewyding en wie se wil ten volle oorgegee is aan Hom – manne en vroue wat Hom sal volg tot die dood.

Jesus se vraag aan sy dissipels in vandag se teksvers word beantwoord met ʼn oppervlakkige “ons kan”. Jesus vertel aan sy dissipels dat hulle wel die lydensbeker sal drink en met die doop gedoop sal word. Die dissipels moes leer dat daar ʼn prys is om te betaal vir ʼn invloedryke geestelike bediening wat vrug dra – en dit is ook nie ʼn maklike betaling nie. Uiteindelik is Jakobus se kop afgekap en Johannes het sy dae as ʼn banneling op die eiland Patmos deurgebring. Ons gaan waarskynlik nie op dieselfde manier as die eerste dissipels ly nie, maar ons as Christene moet nooit verbaas wees as swaarkry oor ons pad kom nie.

Lyding en diensbaarheid is nou met mekaar verweef. In 1 Petrus 2:21 lees ons: “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ʼn voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.” Lees vandag 1 Petrus en oordink jou roeping om getrou aan Jesus te wees selfs wanneer lyding oor ons pad kom. Spandeer tyd in gebed en mediteer oor jou eie gewilligheid om ter wille van Christus lyding te verduur – waar jy jou ook al mag bevind.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS