Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Diensbaarheid, nederigheid en die vrug van die Gees – Dag 2

Gekies om te dien

Bybelteks(te)

MATTEUS 12

18“Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het,

my Geliefde oor wie Ek My verheug;

Ek sal my Gees op Hom laat kom,

en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak.

MATTEUS 12:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag se teksvers maak dit duidelik dat Jesus ʼn spesifieke bediening hier op aarde gehad het – Hy is deur God self aangestel. Hoe wonderlik moet dit wees om deur God aangestel te word! God maak nie aanstellings soos ons dit doen nie. Ons kry ʼn opsie, ʼn vrye keuse. God word nie voor ʼn keuse gestel nie want Hy is in beheer van alle keuses. Hy het nie ʼn klompie Joodse kandidate gevra om aansoek te doen vir die pos van Messias en toe Maria se Seun gekies nie. Hy het reeds aan die begin van ewigheid die enigste Een uitverkies wat hoop aan ʼn verlore wêreld kon bring. Christus het na hierdie wêreld gekom as die Een wat deur God gekies is. Beide by sy doop en tydens die verheerliking op die berg, verklaar God dat Jesus sy geliefde Seun is. God self het Jesus aangestel om sy dienaar te wees, die Een oor wie Hy Hom verheug.

Dit is baie duidelik dat Jesus na die wêreld gekom het om die Vader se wil te doen. Sy bediening is uitgevoer deur die krag van die Heilige Gees en die doel van sy bediening was om God se liefde, genade en geregtigheid met mense te deel. Op soortgelyke wyse word ons deur God geroep, aangestel en bekragtig deur sy Heilige Gees. Hy leef in ons en ons doel is ook om God te verheug en sy wil te doen. Ons is nie gekies tot ons eie voordeel of vir ons eie selfsugtige ambisies nie, ons is gekies om God te dien. Maak dit vandag, en elke dag, jou lewensdoel om in die krag van die Heilige Gees te leef. Leef elke dag om God te verheerlik en sy genade met ander te deel.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS