Dag 8 – Gebed en waaksaamheid
Om met krag en deursettingsvermoë te veg is dit nodig dat ons gereeld tot God moet bid.
Bybelteks(te)
EFESIËRS 6
Die Christen se wapenrusting
Kyk na hierdie dagstukkie
Ons weet nou hoe elke gelowige se wapenrusting lyk, en hoe om dit te gebruik. Die waarheid is jou gordel om die heupe. Die vryspraak is jou borsharnas. Die bereidheid om die evangelie te verkondig moet die skoene aan ons voete wees. Geloof is ons skild. Verlossing is die helm op jou kop en In die laaste plek gee God vir jou ’n aanvalswapen – die swaard van die Gees. Dit is God se Woord.
Maar om met krag en deursettingsvermoë te veg is dit nodig dat ons gereeld tot God moet bid. Dit is waaroor Paulus dan ook in die laaste verse van die teks skryf. Gebed en waaksaamheid. Om waaksaam te wees is immers die produk van gebed. Deur jou oë te sluit in gebed, word jou oë geopen vir satan se aanvalle. Gebed maak dat ons op ons hoede bly. Wie nie bid nie, sal aan die slaap gevang word en oorrompel word deur die vyand. En As ons bid, is dit nie net vir onsself nie – dit natuurlik ook – maar soos die teks sê: vir al die gelowiges.
Vir die hele leër van Christus, vir al sy troepe. Paulus vra ook spesifiek dat daar vir hom gebid word. Dat hy met vrymoedigheid die evangelie kan uitdra. ’n Soldaat op sy knieë, is ’n sterk soldaat.
Broers en susters, Trek die volle wapenrusting van God aan en gebruik dit teen die magte van die bose. So alleen kan jy weerstand bied en staande bly in die dag van onheil. In Christus is jy dan meer as oorwinnaar.