Bible Society of South Africa
Leon van Jaarsveld

Dag 7 – Die swaard van die Gees

Die sesde deel van ons wapenrusting is die swaard, die swaard van die Gees

Bybelteks(te)

EFESIËRS 6

14Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

EFESIËRS 6:14-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kyk na hierdie dagstukkie op Youtube (Opsioneel).

Die sesde en laaste deel van die wapenrusting is die swaard, die swaard van die Gees, dit is die woord van God. Tot nou toe het ons nog net wapenrusting aangetrek wat ons teen die vyand beskerm en verdedig. Nou ontvang ons n wapen waarmee ons ons weereens mee kan verdedig, maar ook kan gebruik om aan te val. Dit is die swaard van die Gees, die swaard wat die Gees gegee het, is die woord van God, soos dit in die Bybel vir ons opgeteken staan. Wanneer jy die Bybel ken, kan jy die Satan dodelike wonde daarmee toedien. Die Woord van God is skerper as ’n tweesnydende swaard en die Gees plaas hierdie swaard in jou hande sodat jy dit kan gebruik om versoekinge te weerstaan, maar ook om daarmee aan te val.

Daar is nie n beter wapen as die Woord van God nie en hoe meer jy dit gebruik en hoe meer jy jou daarin oefen, hoe doeltreffender word hierdie swaard. ’n Soldaat van Christus wat op sy pos moet bly staan in die stryd teen die bose geeste in die lug, moet daarom daagliks hom of haarself oefen in die Woord van God. Lees Bybel, bestudeer dit, praat met ander daaroor en as dit weer toelaatbaar is, woon die eredienste by, kom saam in Bybelstudie.

As jy dit doen dan is die Heilige Gees besig om jou met sy swaard te oefen. Dan word God se Woord deel van jou lewe. Dit word ’n outomatiese handeling om die Woord van God toe te pas en te gebruik in jou daaglikse lewensgang. Doen jy dit nie, oefen jy jou nie in die Woord van God nie, is dit ’n wapen, ’n swaard wat ongebruik in sy skede langs jou heup hang.

Broers en susters, Wil jy jou vyand oorwin? Dan moet jy jouself voed met die woord van God, geestelik fiks bly vir die stryd. Toegerus met die swaard van die Gees – dit is die woord van God, kan die vyand maar kom, jy sal oorwin en die Satan se versoekings kan weerstaan, want die Satan sal nie kan standhou teen die Woord van God nie. Dink aan

Christus se weerstand teen die duiwel by die versoeking in die woestyn. Al Satan se aanslae breek stukkend teen die swaard van die Gees: Ja, Christus gebruik daar die tweesnydende swaard teen die Satan elke keer as hy sê: Daar is geskrywe, daar is geskrywe, daar is geskrywe.

Geliefdes, Maak nie saak hoe Satan jou aanval nie, trek die swaard uit sy skede en gebruik dit om jou te verdedig, maar ook om aan te val. Lees God se Woord, bestudeer dit, oordink dit. Bly jou oefen daarin. Neem die swaard van die Gees in jou hand, om weerstand te kan bied in die dag van onheil en om so daarna nog op jou pos te bly staan.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS