Dag 9 – Samevatting
Die satan span die wêreld in om ons te verlei, te laat twyfel, te laat val.
Bybelteks(te)
EFESIËRS 6
Die Christen se wapenrusting
Kyk na hierdie dagstukkie
Broers en susters, die duiwel is ’n werklikheid waarmee ons moet rekening hou. Ons moet weet dat hy daarop uit is om ’n kloof tussen ons en God te maak, skeiding wil bring tussen ons en die Here. En jy kan maar weet, enige iets wat dreig om dit te doen, wat tussen jou en God kom inskuif, is die werk van die duiwel. Hy soek net een ding: My en jou geestelike dood.
Hy gebruik die wêreld rondom ons met al sy verleidings en aanloklikhede. Hy span dit in om ons te verlei, te laat twyfel, te laat val. Hy het selfs ’n spioen aan die binnekant. Ons eie sondige natuur. Die begeerte binne ons om teen God in opstand te kom, om ongehoorsaam te wees, dit gebruik hy so effektief.
Maar ons kan ons verdedig. Ons het ’n Wapen. ’n Enkele Wapen. Dit is Jesus Christus self. Uiteindelik is dit waarop Paulus se hele beskrywing van die wapenrusting neerkom. Voordat hy die wapenrusting beskryf, skryf hy: “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.” Alles wat ons moet aantrek elke deel van die wapenrusting kom hierop neer: Beklee julle met Christus. Glo in Hom. Glo dat hy vir jou sonde gesterf het. Glo dat hy opgestaan het uit die dood en so die mag van die Duiwel gebreek het. Hy het die dood so oorwin en ons losgekoop uit die mag van die sonde. Dit is uiteindelik ons enigste wapen. En daarom kan ons ook bid dat God ons deur die krag van die Heilige Gees staande sal hou.
Dit gee vir ons ook moed om te weet dat die stryd nie vir altyd sal duur nie. Ons vra die Here om ons deur die krag van die Heilige Gees staande te hou en te versterk, sodat ons sterk teenstand kan bied in hierdie geestelike stryd, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal. Totdat. Nie as ons miskien, of dalk die oorwinning behaal nie. Nee – totdat. Dit gaan verseker gebeur. Jesus gaan weer kom, en as dit gebeur is die stryd vir ons oor en so sal ons op ons pos bly staan. Dan is ons by God, as oorwinnaars in en deur Jesus Christus wat gereed staan met die kroon van die ewige lewe en hoe verlang ons nie daarna nie. Kom Here Jesus, kom gou.