Bible Society of South Africa
Leon van Jaarsveld

Dag 6 – Verlossing is die helm op jou kop

Die vyfde deel van ons wapenrusting is die Verlossing as die helm op jou kop.

Bybelteks(te)

EFESIËRS 6

Die Christen se wapenrusting

10Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

14Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

EFESIËRS 6:10-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kyk na hierdie dagstukkie op Youtube (Opsioneel).

Verlossing is die helm op jou kop. Die helm was nie net bedoel om jou hoof te beskerm nie, dit het ook gedien as versiering. Die feit dat jy gered is, dat jy verlos is van die sonde, verlos is van die bose, is jou as Christen se versiering en beskerming. Met die helm van verlossing op jou kop kan jy nie verbrysel word deur die aanvalle van die Satan nie en sal jy op jou pos kan bly staan. Ons kan ons koppe in vertroue met die versiering van verlossing daarop, optel en ons hoef nie te twyfel nie. Ons is verlos. Satan het geen seggenskap meer oor jou nie. Deur Christus se soenverdienste aan die kruis, is jy verlos van sy greep, daar is betaal vir jou sonde, Christus het die oorwinning behaal en die kop van die slang vermorsel om ons te red.

Jy het oorgegaan van die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van die lig, na die koninkryk wat vir ewig bly staan. Daarom kan ons ons koppe oplig met die helm van verlossing daarop, ons oë gerig op Christus wat weer op die wolke sal verskyn om die Satan en alle bose geeste in die lug in die ewige poel van vuur te gooi. Broer en suster, jy kan die stryd stry, want jy is meer as oorwinnaar deur Jesus Christus ons koning en Here. Jy kan jou kop oplig en selfs die magtigste vyand sonder vrees in die oë kyk. Jy is verlos.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS