Bible Society of South Africa
Leon van Jaarsveld

Dag 4 – Die evangelie moet die skoene aan ons voete wees

Die bereidheid om die evangelie te verkondig moet die skoene aan ons voete wees.

Bybelteks(te)

EFESIËRS 6

14Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

EFESIËRS 6:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kyk na hierdie dagstukkie op Youtube (Opsioneel).

Die bereidheid om die evangelie te verkondig moet die skoene aan ons voete wees. In daardie tyd het die soldate se skoene meer soos sandale gelyk. Dit was van leer gemaak, met swaar dik stewige sole en gebind om die enkels en voete met die tone oop. ’n Soldaat kon met hierdie skoene lang ente stap, dit was gemaklik en kon lekker vastrap.

Letterlik praat die teks van die skoene van die bereidheid van die evangelie. Die woord bereidheid kan ook met gereedheid of vastheid vertaal word. Die vorm waarin die woord evangelie in die Griekse teks geskryf staan het ook twee verklarings. Die een verklaring is om te sê: die bereidheid wat die evangelie gee. Dus die evangelie maak jou as gelowige gereed en gee jou vastigheid, ’n vastrapplek vir die stryd teen die bose. Die evangelie van vrede met God en met mekaar maak jou bereid, gereed vir diens en vir die stryd.

Die ander verklaring is dan soos dit ook vertaal is in die 83 vertaling nl. die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig. Dan is my skoene my bereidheid om na die evangelie van vrede te luister en uit te dra.

Die bereidheid om na die evangelie te luister en dit uit te dra gee en bring ook vrede, rus en standvastigheid. Dit motiveer jouself en ander. Dit hou jou in beweging en haal jou oor tot aksie. In ’n wêreld vol chaos, onsekerheid, wantroue, moedeloosheid het jy die evangelie van vrede. Ware vrede In Jesus Christus ons Here, wat die inhoud van die evangelie van vrede is. In hom is ons vrede wat die verstand te bowe gaan. Hierdie innerlike vrede en rus wat God gee, is ’n magtige wapen in ons stryd. En dit gee nie net vir ons vrede nie, dit bring ook vrede as jy dit aan ander vertel.

Jy kan en mag dit nie vir jouself hou nie. Jy moet dit met ander deel. Ons moet orals loop met die evangelie. By jou werk, by die huis, by die skool, wanneer jy ontspan, wanneer ook al. Die heerlike feit dat ons verlos is deur Jesus Christus, is nie net ’n deeltjie van ons lewe nie. Dit is ons lewe!! En daarom moet ons hierdie skoene oral dra en tot aan die uithoeke van die wêreld daarmee stap. Broers en susters, trek die skoene van die evangelie van vrede aan. Bly op jou pos staan. Jy is gereed vir die stryd. Jy het ’n stewige vastrapplek.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS