Dag 3 – Die vryspraak wat as borsharnas dien
Die tweede deel van die wapenrusting wat die Here vir jou gee is Die vryspraak wat as borsharnas dien
Bybelteks(te)
EFESIËRS 6
Kyk na hierdie dagstukkie
Die tweede deel van die wapenrusting wat die Here vir jou gee is Die vryspraak wat as borsharnas dien. Ons kan dit vergelyk met n koeëlvaste baadjie. Dit beskerm jou organe, en veral jou hart. Jou hart is ’n sagte teiken en dit is juis daar waar die satan jou aanval., en dié teiken word getref as jy begin twyfel of God jou werklik vrygespreek het van die straf op die sonde. Ja, die satan wil he dat jy moet begin twyfel of jy goed genoeg is vir God. Jy het dan nog so baie sondes, maak hy jou wys. Wil jy vir ander vertel hoe om te leef, kyk na jouself. Hou op om so vroom voor te kom.
Hoe kan jy nog Bybel lees en bid en jou kinders volgens die wil van God probeer grootmaak. Kyk na jou swak voorbeeld wat jy vir hulle stel. Hoe kan jy nog glo en hoop op uitkoms in hierdie tyd. Kyk hoe lyk die ekonomie, kyk hoe lyk die wêreld Glo jy regtig dat God vir jou uitkoms gaan gee, jy wat so swaar en aanhoudend teen God sondig. Dit is alles n leuen. Ja, hou aan twyfel want jou eie hart en hande is vuil van die sonde. Is die Satan nie dalk reg nie, mag jy vra. Ons sondig tog elke dag nog en ons twyfel soms in ons geloof.
Ek is n sondaar. My motiewe is nie altyd reg nie. Ek doen baie dinge verkeerd. Ja, as ek na Satan sou luister, dan sou ek in sak en as gaan sit het en myself onttrek het aan die stryd. Maar God gee my die borsharnas van sy vryspraak. Dit is my vryspraak in Christus. Hy is my geregtigheid
Hy het die wet in my plek vervul en die straf op my sonde gedra. Hy het klaar betaal vir my sonde
Ek mag aangaan in diens van die Here, ondanks al my sondes, want al Satan se aanklagte word gestuit en splinter weg vanaf die harde borsharnas van Jesus Christus, ons vryspraak. Die koeëls van Satan kan my nie tref nie, want ek weet dat ek vrygespreek is van my sonde en dat dit bedek is deur die soenverdienste van Christus aan die kruis. Nee, ek is nie niks werd voor God nie. Ek is alles werd, Jesus Christus het duur betaal om my sy eiendom te maak. Ek mag my verheug in die vergewing van my sondes en kan berou toon en in dankbaarheid vir my vryspraak moedig opruk as soldaat van Christus. God se versekering dat hy jou vrygespreek het – werk soos ’n borsharnas wat jou hart beskerm.
Trek die harnas aan, hou vas aan God se belofte van vryspraak, dan sal jou hart nie getref word nie. Jy sal nie twyfel nie en jy sal op jou pos kan bly staan, gereed vir die stryd.