Bible Society of South Africa
Leon van Jaarsveld

Dag 2 – Die waarheid as gordel

Die eerste item van die wapenrusting is dan die waarheid wat as gordel om die heupe gedra moet word.

Bybelteks(te)

EFESIËRS 6

12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

14Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas,

EFESIËRS 6:12-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kyk na hierdie dagstukkie op Youtube (Opsioneel).

Broers en susters, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die geestelike magte, die satan en sy trawante, wat soos brullende leeus rondloop en kyk wie om te verslind. En as ons nie op ons pos bly staan nie, kan ons maklik die duiwel se prooi word. Ons kan egter nie uit eie krag weerstand bied teen die Satan se aanvalle nie en daarom kom God ons te hulp. Hy gee vir ons ’n wapenrusting.

Die dag van onheil kan enige dag wees en is nie noodwendig dieselfde vir almal nie. Dit is ’n dag waarop die versoeking en verleiding sterk is; ’n dag dalk van moedeloosheid, ’n dag van lyding, dalk ’n dag van bekommernis, van wanhoop, van twyfel. Die dag wanneer ons swak is, sal die satan wil toeslaan.

Daarom, die wapenrusting wat God gee is daar ons moet dit net aantrek om gereed te wees vir die dag van onheil.

Die eerste item van die wapenrusting is dan die waarheid wat as gordel om die heupe gedra moet word.

Dit herinner ons aan Israel se vinnige vertrek uit Egipte tydens die tiende plaag. Die Israeliete moes die paaslam eet met hulle heupe omgord, gereed om te vertrek. Die lang rokke wat hulle gedra het, moes met ’n gordel om hulle heupe vasgebind word sodat hulle maklik kon beweeg en nie struikel nie. Die mans het dit ook gewoonlik gedoen as hulle gaan veg het. Om die waarheid as gordel om jou heupe te hê, beteken dus dat jy gereed is om vinnig op te tree, mobiel, gereed vir die stryd.

Sonder die waarheid sal jy onkant gevang word, jy sal struikel en val oor jou leuens en valshede. So sal jy dan die prooi word van die vader van die leuen, die slang van ouds. Jy sal nie opgewasse wees teen hom nie, jy kan dan maar klaar handdoek ingooi.

In teenstelling met die leuen staan die waarheid. Die waarheid is God se woord, die waarheid is om Christus te ken. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Gryp vas aan Hom wat die waarheid is, luister na sy stem soos hy Hom openbaar in die woord en volg hom alleen. Luister na die leiding van die Heilige Gees.

Jy sal dan self ook waar wees. Mense moet jou kan vertrou, jy moet eerlik wees. Moenie ’n huigelaar wees wat mense bedrieg nie. Dan is jy op die speelveld van die Satan. Een leuen lei gewoonlik tot ’n ander en jy sal heeltyd op jou hoede moet wees, want die waarheid seëvier altyd. Die leuen sal jou laat struikel en tot ’n val bring.

Maar die waarheid stel jou in staat om die goeie stryd te stry.

Daar is niks wat teen die waarheid ingebring kan word nie. Die waarheid maak jou

werklik vry. Met die waarheid as gordel kan jy opruk, gereed vir die stryd. Broers en susters, bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS