Dag 1 – Inleiding
Die volle wapenrusting van God
Bybelteks(te)
EFESIËRS 6
Die Christen se wapenrusting
Kyk na hierdie dagstukkie
Ons lewe in die tyd tussen Christus se koms en sy wederkoms. En hierdie tyd is oorlogstyd. Maar dit is nie ’n oorlog waarin ons moet wonder of ons gaan wen nie. Nee, die uitslag van die oorlog is reeds bekend – deur Jesus Christus behoort die oorwinning aan ons.
In ’n oorlog gebeur dit baie keer dat ’n land sy vyand so verslaan tydens ’n veldslag dat dit sy oorwinning klaar verseker. Die oorlog hou nie op na hierdie veldslag nie, maar dit is net ’n kwessie van tyd voordat die vyand totaal vernietig is.
So is dit ook met Christus se koms en sy wederkoms. Jesus Christus het met sy eerste koms die Satan en al sy magte reeds oorwin. Hy het die dood oorwin en Hy het vir al ons sonde ten volle betaal sodat ons die ewige lewe kan hê. Dit is egter nog net ’n kwessie van tyd voordat Christus weer kom om die Satan en al sy magte finaal te vernietig.
Terwyl ons wag vir Jesus se wederkoms, moet ons dus veg soos mense wat weet dat ons gaan wen. Jy moet nie moedeloos word in die stryd teen Satan nie. Deur Jesus Christus is ons reeds oorwinnaars!!
En as oorwinnaars moet ons op ons pos bly staan. Drie keer word dit in Ef. 6 herhaal dat ons op ons pos moet bly staan. Die beeld wat Paulus gebruik is dié van ’n Romeinse weermag. Die Romeinse weermag het n gedugte linie gevorm. Soldate het skouer aan skouer gestaan elkeen met sy skild voor hom. Hulle het op die manier ’n muur gevorm waarteen die vyand homself vas geloop het. Maar wanneer een soldaat sy plek verlaat het – wanneer hy nie op sy pos vas bly staan het nie – kon die vyand binnekom en die Romeine van binne af doodmaak.
Die kerk is soos ’n Romeinse weermag. Elke lidmaat, elke gelowige, moet op sy pos bly staan. Ons as gelowiges stry saam teen die Satan en sy magte.
In ons stryd teen die bose gee God vir elke gelowige ook ’n wapenrusting en daarvan sal ons in die volgende paar dae van hoor. Intussen, hou aan bid, want ’n biddende soldaat is ’n sterk soldaat, wat op sy pos bly staan.