Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Die Heilige Gees – Dag 3

Waaghalsige Dawid

Bybelteks(te)

HANDELINGE 1

8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

HANDELINGE 1:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag gee ons aandag aan die kragtige werking van die Heilige Gees in die lewe van een van die belangrikste karakters in die Ou Testament wat sowat ʼn duisend jaar voor die koms van Jesus van God se grootheid getuig het.

“Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?” (1 Samuel 17:26). Hierdie was die woorde van ʼn jong skaapwagter wat besef het dat Goliat, die groot vegter van ʼn heidense leër, God beledig en hy was ontsteld dat die Israeliete te bang was om teen hom te veg.

Alhoewel nog jonk, het Dawid ʼn passie vir God gehad en het hy reeds geleer om, daar waar hy sy vader se skape opgepas het, op God te vertrou vir beskerming. Sy eerste dapper daad was om aan te bied om teen die reus te gaan veg, en sy tweede was om te kies om nie die wapenrusting aan te trek vir die geveg teen Goliat nie. Hy het koning Saul verseker: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom ʼn leeu of ʼn beer en dra ʼn lam weg uit die kudde, gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn” (1 Samuel 17:34-37).

Watter wonderlike woorde van geloof is hierdie nie! Aangevuur deur die Gees, berei Dawid homself voor vir die geveg deur klippies in die spruit uit te soek. Toe het hy teen Goliat gaan veg slegs gewapen met sy kierie, ʼn slingervel en vyf gladde klippies. “Jý kom na my toe met ʼn dolk en ʼn spies en ʼn swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het … Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee” (1 Samuel 17:45,47). Dawid bewys hier sy geloof en dapperheid. Hy besef dat die Filistyn uiterlik baie goed gewapen was, maar innerlik net valse gode aanbid, en daarom het hy net vals moed gehad terwyl Dawid op die enigste ware God vertrou het. Wat ons hier sien, is ʼn geval waar God weereens deur die krag van sy Heilige Gees in die lewe van ʼn gewone mens werk om deur sy godgegewe talente iets buitengewoons te kan doen.

Daar is ʼn aantal besondere dinge wat in Dawid se houding en gedrag uitstaan: sy ontsettende sensitiwiteit vir die eerbied wat aan God verskuldig is, sy vertroue dat God in staat is om Hom te red, sy moed en gewilligheid om in die geloof ter wille van die eer van God standpunt in te neem. Ons kan die Heilige Gees in hom sien werk en hoe hy van die grootheid van God getuig. Wanneer iemand so standpunt inneem, is dit positief en kragtig en bemoedig dit baie mense aangesien die persoon minder word en God verheerlik word. Ons kan ook standpunt inneem en die Heilige Gees toelaat om ons te verander.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS