Die Heilige Gees – Dag 2
Wie is die Heilige Gees?
Bybelteks(te)
GENESIS 1
Reg aan die begin van die skeppingsverhaal word ons vir die eerste keer voorgestel aan die Heilige Gees waar Hy oor die donker diep water sweef. Ons sien sy krag aan die werk daar waar God deur die woorde wat Hy spreek die wêreld laat ontstaan. Dit is egter Jesaja wat ons ware insig in sy grootheid gee: “Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ʼn maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ʼn skaal die berge en die heuwels geweeg? Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree?” (Jesaja 40:12-14).
Wanneer jy die beelde wat hier beskryf word visualiseer en dit jou nie in vervoering bring oor die grootsheid van die krag van God nie, lees hierdie verse oor en oor. Ek is oortuig dat daar so baie skeppingsteorieë is omdat mense nie waarlik hierdie ontsagwekkende prestasie in die lig van hoe kragtig God werklik is, kan waardeer nie en daarom probeer hulle om ʼn meer “logiese” of “aanvaarbare” teorie te formuleer. Na hierdie eerste kykie op die ontsagwekkende krag van die Heilige Gees, ontmoet ons Hom regdeur die Ou en Nuwe Testament waar Hy soms in ʼn persoon is of op ʼn persoon of groep rus en hulle toerus vir ʼn spesiale sending.
Moses, wat die Israeliete uit slawerny moes bevry en uit Egipte moes lei, het gevoel dat hy onwaardig vir hierdie taak was en het gesê: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” (Eksodus 3:11). En tog het hy deur die krag van die Heilige Gees daarin geslaag. So ook het Josua, van wie ons lees, in sy sending geslaag: “Neem vir Josua seun van Nun, ʼn man op wie my Gees is, en lê hom die hande op” (Numeri 27:18). Hy het die Israeliete die beloofde land ingelei.
Otniël het die koning van Mesopotamië verslaan en vir veertig jaar vrede in die land gebring, want: “Die Gees van die Here was op hom en hy het oor Israel geregeer …” (Rigters 3:10). Debora, die profetes en rigter het saam met Barak teen Sisera gaan veg en hom verslaan (Rigters 4). Gideon het die Midianiete verslaan nadat die Gees van die Here van hom besit geneem het (Rigters 6:34) en Simson (Rigters 14) het ʼn leeu kaalhand uitmekaar geskeur en ʼn duisend Filistyne met die kakebeen van ʼn donkie doodgeslaan. Hierdie is maar ʼn paar voorbeelde van hoe die Heilige Gees kragtig deur mense van die Ou Testament gewerk het.
Elkeen van hierdie gewone mense is deur die Heilige Gees verander. Hulle het almal deur die krag van die Gees besondere waagstukke onderneem wat hulle nooit in eie krag sou kon doen nie en so het hulle hul eie mense gered.
Die goeie nuus is dat die Heilige Gees vandag steeds mense bekragtig.