Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Die Heilige Gees – Dag 20

Die Gees bring versekering

Bybelteks(te)

GALASIËRS 5

24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

GALASIËRS 5:24-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons begin ons oordenking vandag met woorde wat ons opnuut verseker. As Christene het ons ʼn paspoort gekry om reg te lewe want ons het die “sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig” en ons word nou deur die Heilige Gees in ons gelei. Dit beteken nie dat ons nou geen lewensvreugde het nie, maar eerder dat ons energie gekanaliseer word om dit wat reg is te doen en vir ons ware genot verskaf. Ons word verseker van vrede en tevredenheid want ons blydskap word nie deur sonde en twis geblus nie. Dit is goed om na te dink hoekom Paulus ons leer dat ons deur die Gees moet wandel.

Wanneer ons saam met iemand stap, probeer ons ons bes om teen dieselfde spoed as daardie persoon te beweeg — ons probeer om nie die pas te vertraag nie, maar ook om nie vooruit te hardloop nie. Paulus gee hierdie raad want dit is normaal om, wanneer dit goed gaan, soms op ons louere te rus en dan nie by te hou met God se plan vir ons nie, of om jouself op die skouer te klop en te probeer om dinge op eie stoom te doen sonder die leiding van die Heilige Gees. Wanneer ons eers uit pas is met die Gees, loop ons ook die risiko om ons vreugde en krag te verloor.

Paulus skryf by geleentheid aan die Galasiërs toe hy so ʼn verandering by hulle opgemerk het: “Wat het nou van julle blydskap geword?” (Galasiërs 4:15) en ʼn ander keer: “Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid” (Galasiërs 5:7-8).

Wanneer ons probeer om die Gees vooruit te loop, meng die duiwel in want ons is nie in pas nie. Dit stel ons bloot aan die sondes waarna Paulus verwys: verwaandheid, uittarting en afguns. Ons dink soms ons is beter as ons broer of suster, en ons probeer om onsself te bevorder ongeag die wil van God. Die resultaat is mislukking en dit lei tot teleurstelling, woede en ontevredenheid, en bring onmin onder gelowiges want niemand gee aandag aan die Here nie. Dit is hoekom Paulus sê: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Filippense 2:3-4).

Wanneer gelowiges hulleself in nederigheid aan die Here oorgee, sal die Gees, ongeag omstandighede, vrede en eenheid onder hulle bevorder. Wanneer die Gees geïgnoreer word, is daar twis en onmin wat die duiwel die geleentheid gee om op ʼn subtiele manier aan te val, insluitend deur regte, afleidings, verskonings en verwarring, alles om ons weer onder sy beheer te kry.

Die realiteit is dat ons God deur die Gees kan behaag, maar daarsonder behaag ons die duiwel, so “laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS