Die Heilige Gees – Dag 11
Die kragtige Gees
Bybelteks(te)
HOSEA 1
SAGARIA 4
Van die begin van tyd word die mens beïndruk deur krag en mag en probeer hy om dit te gebruik om sukses in sy lewe te bereik. Dit is duidelik in sy voortdurende soeke na beheer, roem en materiële besittings. Ons is voortdurend op soek na iets of iemand wat belangriker en sterker as onsself is en wat dinge vir ons sal laat gebeur, maar so dikwels maak ons die verkeerde keuse. Indien ons aandag geskenk het aan die Bybelgedeeltes wat ons sover bespreek het, sal dit duidelik wees dat die krag waaroor die mens beskik, hom nie noodwendig in staat stel om sy doelwitte te bereik nie. Goliat het nie die oorwinning vir die Filistyne behaal nie. Isebel het nooit vir Elia gevang nie. Om die waarheid te sê — die mens sal nooit die oorwinning behaal as sy prioriteite die teenoorgestelde is as die van God nie: “ … want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God” (1 Korintiërs 3:19).
In vandag se teks sien ons hoe God se plan deur Sagaria in sy boodskap aan Serubbabel uitgelê word en ook voor dit deur sy woorde aan Hosea. Sy vertroostende en bemoedigende woorde bevat ʼn dubbele seëning wanneer Hy Serubbabel beloof dat hy kragtige dinge deur die Gees van die Here sal bereik. Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel ʼn gelykte word, en hy sal die vreugde smaak om die taak te voltooi. Hy gee aan Sagaria die visie van ʼn goue kandelaar wat aanhoudend brand en gevoed word uit ʼn oliebak met ʼn onuitputlike voorraad olie; die simbool van die voortdurende uitstorting van die Heilige Gees, wat in volle maat aan hulle gegee word om hulle vir hulle taak toe te rus. Indien jy al ooit ʼn reuse taak moes afhandel terwyl jy reeds moeg en mismoedig was, en met min mense om te help, sal jy die waarde van hierdie belofte waardeer.
Die Heilige Gees het Serubbabel in staat gestel om toesig te hou oor die bannelinge wat uit Babel teruggekeer het om die tempel te herbou. Omdat hulle min in getal was, moeg om deur die vyand getreiter te word en mismoedig was oor hulle so baie gehad het om te doen, het hulle swak gevoel en nie kans gesien vir die taak nie. Laat die wete ons bemoedig dat die Here nooit staat maak op menslike krag nie, in werklikheid “[sy] … krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Korintiërs 12:9). Sy Gees gee nuwe krag aan die armes, die swakkes, en die nederiges.