Die Heilige Gees – Dag 10
Die Heilige Gees, die Trooster
Bybelteks(te)
1 KONINGS 19
“Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter … ” As jy al hierdie woorde gesê het of iemand ken wat so gevoel het, sal jy ʼn bietjie insig hê in hoe Elia moes gevoel het. Vir ons wat nog nie so gevoel het nie, mag dit verstommend wees dat Elia so voel ondanks sy oorwinning op die Karmelberg, en veral na God sy gebed so kragtig beantwoord het. Hoekom sou hierdie held wat so dapper teen Agab opgestaan het, vuur uit die hemel afgeroep het, met sukses gebid het dat die reën moet kom om die droogte te breek, en aan wie daar bonatuurlike krag gegee is om vir Agab se strydwa weg te hardloop, so waardeloos voel dat hy eerder wou sterf? Ten spyte van die feit dat ons suksesvol is of miskien groot dinge vir God doen, is niemand immuun teen negatiewe gedagtes nie. Depressie, teleurstelling, eensaamheid en uitputting oorval ons soms na ons hard en met toewyding aan iets gewerk het.
In hierdie stadium was Elia baie bedruk. Die Here het Homself deur Elia aan die volk bewys, ʼn groot oorwinning is behaal, en tog het die lojaliteit van die volk nie so beduidend verander as wat Elia gehoop het nie. Isebel was steeds ʼn kragtige invloed van die bose. Elia was bitter teleurgesteld en bang nadat Isebel gehoor het dat Elia haar 850 profete doodgemaak het, en sy het gesweer dat sy hom die volgende dag sou doodmaak. So na wie gaan die profeet vir troos in sulke tye van bedreiging? “Toe hy hom weer kom kry, skud ʼn engel aan hom en sê: ‘Word wakker! Eet!’ Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en ʼn kruik water … Die engel het ʼn tweede keer aan hom geskud … ” (1 Konings 19:5-7). In hierdie tyd van nood het God nie net aan Elia bewys dat Hy verstaan nie, maar Hy het op ʼn tasbare manier bewys dat Hy omgee. Hy het besef dat Elia moeg en honger was en daar in die woestyn voorsien die Here in Elia se behoeftes. Ruik jy die roosterkoek?
Met sy krag versterk, reis hy na die berg Horeb, meer as 300 kilometer verder. Daar “ … het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: ‘Wat maak jy hier, Elia?’” (1 Konings 19:9). Wat ʼn verligting om sy hart voor God te kon uitstort en net op Hom te fokus. Soms, in ons toewyding aan die Here, verloor ons fokus en probeer self dinge doen wat eintlik aan Hom behoort. Dit is dan nodig om weer balans te vind. Ons lees hier hoe God weer eens vir Elia presies gee wat hy nodig het. Hy stuur hom nie om ʼn groot taak te gaan verrig nie, maar gee hom eerder ʼn ongelooflike ondervinding deur aan hom op ʼn baie persoonlike manier te verskyn. “Skielik was daar ʼn baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ʼn aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan” (1 Konings 19:11-13). In die fluistering van die windstilte het die Here hom toegerus vir sy taak wat nog nie voltooi was nie.
Verstommend!