Die Heilige Gees – Dag 12
Die eenheid van die Heilige Gees
Bybelteks(te)
JESAJA 61
Eer in plaas van smart
LUKAS 4
Jesaja is ʼn boek vol bewyse van die Heilige Gees, in profesieë, gedigte, deur die oortuiging van sonde en bemoediging vir die kinders van God. Jesaja het ʼn onvergeetlike visie van God ondervind wat hom met verwondering vervul het en sy lewe verander het. Hy was gehoorsaam aan die roepstem van die Here en het homself gewillig beskikbaar gestel: “Toe het ek die Here hoor vra: ‘Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek! Stuur my!’” (Jesaja 6:8). Die Here het Jesaja as ʼn profeet gestuur na die bannelinge wat uit Babel teruggekom het, maar Hy het ook deur hom baie beloftes gemaak wat in Jesus vervul is.
Vandag se teksvers is naas die profesie oor die lydende kneg en Jesaja se visie van God, seker een van die opwindendste tekste in Jesaja. Dit is profetiese tekste met ʼn dubbele interpretasie — eerstens vir die tyd van Jesaja, maar ook vir die toekoms. Jesaja praat met die oorblywende deel van die volk wat uit ballingskap na hulle verwoeste land terugkeer, steeds in rou oor hulle verliese en wanhopig oor dit wat op hulle wag, maar die Heilige Gees praat vandag nog met diegene in ons geslag wat probeer om uit ʼn meer subtiele gevangeskap te ontsnap, of wat probeer om ʼn gebroke lewe te herbou. Die skoonheid van hierdie profetiese woorde vind ons egter daarin dat dit die presiese woorde is wat Jesus gebruik het om sy sending as die Messias aan te kondig, woorde wat hoop bring — met die bevestiging dat die Gees van die Here op Hom is.
Lukas het vir ons opgeteken dat hierdie gebeure plaasgevind het toe Jesus aan die begin van sy bediening in die sinagoge uit hierdie boekrol van Jesaja voorgelees het, duidelik geen toeval nie. Sy taak was ʼn reuse een: om die grootste geskenk denkbaar, die geskenk van liefde, aan die mensdom te gee en Hy erken dat dit deur die krag van die Heilige Gees is dat Hy dit sal doen. Omdat Hy deur die Heilige Gees gesalf is, kon die mense reeds aan die begin besef dat daar krag is in dit wat Hy hulle geleer het. “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ʼn man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie” (Matteus 7:28-29).
Hy bring die blye boodskap dat God die wêreld liefhet en dat Hy deur sy genade die mensdom van die lyding van sonde wil red. Hy wil die afhanklikes, die wat geestelik arm is, red: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matteus 5:3), asook diegene wat treur oor hulle sondes en trots, en verliese: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matteus 5:4). Sy genade geld ook vir gevangenes, die in die tronk, asook hulle wat buite is, maar in gevangeskap verkeer as gevolg van vooroordele, skynheiligheid, skinder, gierigheid en haat. “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word” (Matteus 5:6).