Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Die Heilige Gees – Dag 9

Die vuur van die Heilige Gees

Bybelteks(te)

1 KONINGS 18

36Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. 37Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

1 KONINGS 18:36-37AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elia was een van God se grootste profete omdat hy eerbiedig was: “Here, God … dat U God is in Israel”; hy was nederig: “dat ek u dienaar is”; hy was gehoorsaam: “wat op u bevel al hierdie dinge doen”; hy was onselfsugtig: “dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is”. Elia het onvoorwaardelik op God se roepstem geantwoord en die Here het met hom gepraat en kragtig deur sy Gees, deur Elia gewerk. En tog, ongeag sy verhouding met God, was sy lewe in Israel nie maklik nie want koning Agab het hom as sy vyand beskou. Agab het Elia net as die draer van slegte nuus beskou en, soos die geval met baie mense vandag, nie geglo dat dit sy aanhoudende sonde en afgodsdiens was wat die profesieë en oordeel van God oor hom en Israel gebring het nie. God verdra steeds nie sonde nie.

Agab moes aan God en Elia rekenskap gee, maar hy was met ʼn heidenvrou, Isebel, getroud en hy het haar raad gevolg en saam met haar afgode aanbid en God se woord wat deur Elia gekom het, verwerp. Isebel was ʼn getroue afgodedienaar en in beheer van 850 profete van Baäl en Asjera, en sy het Agab voortdurend mislei. Hierdie is ʼn baie duidelike voorbeeld hoekom Paulus eeue later vir die gelowiges gesê het: “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?” (2 Korintiërs 6:14). Dit is vandag nog steeds waar.

Geen wonder nie dat Elia se grootste en belangrikste wonderteken was om die profete van Baäl op die Karmelberg te verslaan, en so die volk te oortuig dat Here die ware God is. Die dag het uiteindelik aangebreek dat Agab die vals profete en die volk op die Karmelberg byeengebring het, soos Elia hom beveel het, en Elia het vir die volk gevra: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm” (1 Konings 18:21). Elia het toe die profete van Baäl beveel om eerste ʼn altaar te bou en dan ʼn bul voor te berei om vir Baäl te offer. Hy het ook ʼn bul voorberei om aan die Here te offer. Hulle is nie toegelaat om self die vuur aan te steek nie en die uitdaging was om te sien watter god die krag het om die vuur te laat brand.

Die vals profete het die hele dag tot Baäl geroep, hulle stukkend gesny met swaarde en tevergeefs gewag dat hy hulle antwoord. Toe Elia egter tot God bid om die offer wat hy voorberei het te aanvaar, het Hy onmiddellik vuur uit die hemel gestuur om die offer te verbrand. Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” (1 Konings 18:39).

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS