Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 9

Maak ʼn verskil

Bybelteks(te)

EFESIËRS 2

10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

EFESIËRS 2:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om die goeie wat mense doen met ʼn kamera vas te vang, is nie altyd so maklik nie. Baie min mense laat jou toe om wat hulle as hulle roeping sien aan die groot klok te hang. Dit verg baie oorredingsvermoë om so ʼn persoon op ʼn foto vas te vang saam met diegene wat voordeel trek uit die gebeure.

So het ek gesukkel by ʼn voedingskema in Danville, Pretoria. Die mense wat daar help wou nie ophou waarmee hulle besig was nie. Die standaardantwoord was: “Ons doen dit uit liefde – liefde vir Jesus en liefde vir die behoeftiges.”

Ek kry die kans om ʼn sentrum te besoek waar kinders wat gemolesteer en aangerand is, berading ontvang. In die sentrum tref ek mense aan met ongelooflike liefde en deernis vir diegene met wie hulle werk. Oral is teddiebere en toe ek vra hoekom daar so baie is, is die antwoord eenvoudig: “Die teddiebere bring rustigheid by die kinders en hulle kan aan hulle vashou.” Toe ek vra na hulle motivering om so ʼn groot taak te verrig, is die ondubbelsinnige antwoord: “Ons is gelowiges en uit dankbaarheid vir wat Christus vir ons gedoen het, reik ons uit.”

Drie Katolieke susters in ʼn Moslemland vertel vir my hulle verhaal van onbaatsugtige liefdesdiens as verpleegsters in ʼn hospitaal. “Ons probeer Christus vir hierdie mense wees. Die vroue hier sien op ons neer omdat ons nie getroud is en kinders het nie. Al wat ons kan doen is om Christus te leef,” was die eenvoudige, dog reguit verduideliking. Poseer vir ʼn foto? Om die dood nie.

So is daar talle gelowiges wat daagliks uitreik na mense in nood. Nood het baie fasette en die behoefte, nie net in Suid-Afrika nie maar oor die wêreld heen, is geweldig groot. Daar is egter gelowiges wat daagliks op die kleiner prentjie fokus, gelowiges wat glo dat jy op voetsoolvlak regtig ʼn verskil kan maak.

Dit is ook die uitdaging aan ons om vandag, maar ook elke dag, ʼn verskil in mense se lewens te maak. Dit is ons roeping.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS