Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 8

Rolmodel

Bybelteks(te)

1 KORINTIËRS 9

24Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.

1 KORINTIËRS 9:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Nog ʼn Olimpiese Spele kom tot ʼn einde. Wat ʼn voorreg was dit nie om al die atlete wat vir baie jare hard gewerk het, in die verskillende dissiplines in aksie te sien nie. In die maande en jare wat volg gaan ons telkens nog beelde sien wat die kameras tydens hierdie skouspel vasgevang het.

Daar gaan die beelde wees van mense wat getriomfeer het, wat die hoogste sport bereik het, ʼn goue medalje! Dan gaan daar die beelde wees van mense wat bitter teleurgesteld is oor hulle mislukking.

Wat die kameras vasvang, is die oomblik van sukses of teleurstelling, die groter prentjie is nie sigbaar nie. Die harde werk wat die voorbereiding van die atlete geverg het, sal by ons as kykers verbygaan. Net besonderse stories gaan vertel word. Die positiewe egter is die vele rolmodelle wat na vore gaan tree – rolmodelle met ʼn positiewe boodskap.

Vir die gelowige wat deelneem aan die wedloop van die lewe is alles toegespits op die hiernamaals, die ewige lewe saam met God Drie-enig. Paulus praat van hierdie voorbereiding as iets wat navolgenswaardig moet wees. Dit gaan daaroor dat ons ʼn rolmodel sal wees.

Die lewe is egter nie altyd maklik vir rolmodelle nie. Hulle word deurgaans onder die vergrootglas geplaas, kameras agtervolg hulle en dit wat hulle sê of doen, word tot in die fynste besonderhede ontleed.

Die uitdaging vir my en jou as gelowiges én rolmodelle, is om uit te gaan en so te leef dat ons optrede harder en duideliker as ons woorde spreek. Ons verhouding met Christus moet so spesiaal en intiem wees dat mense nie anders kan as om dit te wil navolg nie. Hulle moet ook die wenstreep wil bereik om vir ewig saam met God in die hiernamaals te wees.

Die groot verskil tussen die Olimpiese Spele en die wedloop van die lewe is gewoon dat daar nie net een wenner is nie. As jy aan die wedloop van die lewe deelneem en jy is getrou tot aan die einde gaan jy die prys wen – jy gaan die ewige lewe beërwe.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS