Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 10

Die Bybel – my hele lewe

Bybelteks(te)

PSALMS 40

8Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom

soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is.

9Om u wil te doen, my God, is my een begeerte,

u woord is my hele lewe.”

PSALMS 40:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is aangrypend om die bekendstelling van ʼn nuwe Bybel, veral as dit ʼn eerste vertaling is, by te woon. Gewoonlik is die vertalers daar, kerkleiers en ook die publiek – gelowiges wat in baie gevalle talle jare moes wag op dié vertaling. Gewoonlik gaan die bekendstelling gepaard met sang, danse en luidrugtige lofprysings. Vir jou met jou kamera is dit gewoonlik ʼn goeie geleentheid om besonderse foto’s te neem.

Tydens die bekendstelling van die Nuweleser-Bybelgedeeltes in !Xun by Platfontein naby Kimberley in 2009 ontmoet ek Moses Ndala – ʼn man van byna sewentig.

Hy is pynlik netjies aangetrek met ʼn wit hoed op die kop. Hy sit eenkant op ʼn trappie en lees hardop uit die Nuweleser-Bybelgedeelte Boekie B. Vir die eerste maal kan hy in sy moedertaal iets oor Jesus lees.

Ek beweeg nader en neem die foto. Die flits van die kamera pla hom nie. Hy is absoluut verdiep in dit wat hy lees. Toe ek nader staan om met hom te praat, kyk hy op en ons maak oogkontak. “Dit is waar wat hier staan. Jesus is die Seun van God.”

Moses Ndala moes oud word voordat hy iets uit die Bybel in sy eie taal kon ontvang. Na alle waarskynlikheid gaan hy nie binnekort die volledige Bybel in sy moedertaal ontvang nie.

Die groter prentjie waarbinne Moses Ndala hom bevind is ʼn hartseer verhaal van ontwrigting, verplanting en voete vind in ʼn vreemde en nuwe land. Die kleiner prentjie wat vasgevang is vertel die storie van ʼn gelowige wat ʼn liefde vir sy taal en die Bybel het, al is dit nie in sy moedertaal nie.

Dit is voorwaar inspirerend om so iemand te ontmoet – iemand wat nie skaam is om sy liefde vir die Bybel te verwoord nie. En vir ons as gelowiges moet dit dien as aansporing om ook dieselfde liefde vir ons Bybel te openbaar.

Mag ons soos die psalmis sê: “U woord is my hele lewe.” En as dit ons belydenis is, dat ons lewe dit sal reflekteer.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS