Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 7

Genesing

Bybelteks(te)

MATTEUS 8

2'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

3Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.

MATTEUS 8:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

As jy self al baie siek was, verstaan jy hoe kosbaar jou gesondheid is. Des te meer as jy aan iets soos melaatsheid ly. Dit is ʼn siekte wat deesdae nie meer so algemeen voorkom nie, maar wanneer iemand dit onder lede het, is dit ingrypend.

Funda is ʼn klein plattelandse dorpie noord van Luanda, Angola. Daar is ʼn melaatse kolonie, ʼn veilige hawe vir diegene wat aangetas en deur die samelewing gestigmatiseer is. Die inwoners by hierdie versorgingsoord is nie almal ewe lank al daar nie. Daar is selfs mense wat reeds in die middel 1970’s ingeneem is.

Ek kry gelukkig die kans om met van die inwoners te gesels en hulle verhale aan te hoor. So tussendeur neem ek foto’s en die aand besef ek eers wat ek op my kamera vasgevang het. Ek het mense vasgevang wat ʼn normale lewe lei binne die terrein waar hulle in afsondering woon. Mense wat lag, huil en drome droom. Gesinne met kinders, alhoewel ma en pa dalk al ʼn paar amputasies agter die rug het.

Toe ons bid, neem ek ʼn foto van ʼn vrou se hande wat baie respekvol bymekaargehou word. Nie al die vingers en litte is meer daar nie en die res is maar knopperig. Dit verhoed nie dat sy dit saamvat in die gebedshouding nie.

Toe ons ry was ek diep onder die indruk van dit wat hierdie mense ervaar en waaroor hulle droom. Gesondheid is hoog op die prioriteitslys, maar ek ervaar iets anders. Ek ervaar mense wat gesond geword het in hulle verhouding met Jesus Christus. Geestelik is hulle gesond en gemaklik met waar hulle is. Tevrede in Christus, tevrede dat sy genade elke dag genoeg is en sal wees.

As jy dalk vandag genesing verlang, mag jy dit vind in jou verhouding met Christus Jesus en mag sy genade vir jou genoeg wees, elke dag, sonder einde. Jou siekte mag dalk nie weggaan nie, maar jy mag geestelik gesond word.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS