Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 6

Die vrou

Bybelteks(te)

SPREUKE 31

10'n Knap vrou is baie werd,

baie meer as edelstene.

SPREUKE 31:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elke jaar op 9 Augustus vier ons Vrouedag. Ek het al baie gewonder of ons regtig so ʼn spesiale dag op die kalender moet hê? Aan die ander kant, is elke dag nie veronderstel om Vrouedag te wees nie?

As ek maar net dink aan die talle vroue wat my pad deur die jare gekruis het, dan staan ek verstom oor hoeveel knap vroue daar regtig is. Vroue waarvan koning Lemuel se moeder gepraat het, die tipe vrou wat sy graag aan die sy van haar seun wou sien.

Ons almal ken die klassieke foto wat gewoonlik van ʼn man en vrou geneem is, dikwels tydens ʼn troue of wanneer ʼn formele foto verlang is. Die man sit op ʼn stoel en die vrou staan agter die man met haar hande liefderyk op sy skouer. Statig en baie formeel.

Ons sou baie maklik kan sê dit is darem te outyds en klassiek, tye het verander. Vandag is ons volle vennote en die een is nie belangriker as die ander nie. Dit is waar. Tog speel die vrou ʼn belangrike rol.

As vrou is sy die een wat haar man ondersteun, al is hy soms in ʼn mindere posisie as sy in die werkplek. Sy is die ma van haar kinders, en dit bly sy vir altyd, ongeag wat haar omstandighede is. Sy is die een wat versorg en ʼn veilige tuiste skep, wat troos as daar getroos moet word en bemoedig as daar bemoediging nodig is. Sy doen dit alles, ongeag haar posisie by die werkplek of in die huis. Sy is vrou, spesiaal met baie gawes en talente wat mans nie het nie.

Jannie du Toit en Christa Steyn het vir die CD Deel die Woord hierdie gedeelte in Spreuke getoonset. Telkemale as ek die gedeelte in Spreuke lees en na hulle verwerking daarvan luister, staan ek verwonderd oor hoe raak die rol van die knap vrou saamgevat is.

Vandag wil ek graag aan al die knap vroue sê: “Julle is ʼn sieraad in die koninkryk van God hier op aarde. Dankie vir wat julle vir julle mans, kinders, vriende en vriendinne doen en beteken.”

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS