Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 5

Vissers van mense

Bybelteks(te)

MARKUS 1

Jesus roep sy eerste dissipels

16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

MARKUS 1:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die magtige Kongorivier skep vir jou as fotograaf talle geleenthede om pragtige foto’s te neem. Die rivier is nie noodwendig die helderblou wat jy in gedagte gehad het nie, maar dit is beslis aanskoulik en majestueus. Dit vloei vinnig, sterk en baie breed en jy staan verwonderd oor die massa water wat by jou verbygaan.

By Maluka sit ons langs die rivier en ek neem foto’s. Voor my sit ʼn jong seun, Roger Lola, wat probeer visvang met ʼn stukkie vislyn wat vasgebind is aan ʼn langerige, dun bamboes. Roger staan in die houtboot langs die kaai sodat hy sy lyn in die dieper water kan laat sak.

Die prentjie wat ek met my kamera kon vasvang was dié van ʼn seun wat oënskynlik sorgeloos visvang. Die groter prentjie en konteks waarbinne die seun leef en werk was vir my verdoesel. Gedagtig aan sy klere was dit nie noodwendig die maklikste omstandighede nie.

Kyk ons na die roepingsgeskiedenis van Jesus se dissipels is daar ook maar net klein prentjies beskikbaar. Die groter beeld en konteks is nie altyd sigbaar nie. Tog is daar iets wat vassteek. Hulle was gewone mense wat geroep is om hulle kennis en liefde van een beroep te kom uitoefen in ʼn ander. Hulle moes vissers van mense word – geroep om mense vir Jesus en sy koninkryk te kom “vang”.

Dit mag dalk romanties klink, maar ons weet dit is nie so maklik nie. Om uit te reik na mense, om mense te evangeliseer is nie so maklik nie. Dit vra baie geduld, liefde en opregte vriendskap. Dit vra dat jy sal aanhou ten spyte van terugslae en nie moed sal verloor nie. Dit vra om getrou daar te wees en weer en weer uit te reik.

Die uitdaging vir ons vandag as gewone gelowiges is om gehoorsaam te wees aan ons roeping om getuies te wees, en om getrou te wees om met handel en wandel ander te “vang” vir die koninkryk van God.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS