Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 4

Kinders

Bybelteks(te)

MATTEUS 19

14Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

MATTEUS 19:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

As baie jong kind was ek, soos ek glo talle ander, aangegryp deur die verhaal van die bekende ds Solly Ozrovech. Iemand wat per ongeluk in die verkeerde kinderhuis beland, as Jood tot bekering kom en predikant word. Vir my was hy die toonbeeld van Jesus se liefde wat prakties gestalte gevind het.

Tydens ʼn besoek aan Uganda neem Justine Zikusooka van die Bybelgenootskap van Uganda my na ʼn projek op die platteland. Hier reik hulle uit na kinders wat MIV-positief is, asook na kinders wat gesinshoofde is. Hier kry ek weer ʼn ander invalshoek op wat in Matteus 19:14 bedoel word.

Wat ek daar ervaar het, was suiwer liefde in aksie. In ʼn stadium nooi Justine die negejarige Ruth om by haar te kom sit. Terwyl hulle sit en gesels, neem ek ʼn steelfoto. Ek het al vantevore gesê ʼn foto jok nie, dit vang die waarheid vas. Wat ek in daardie oomblik vasgevang het, was die onbaatsugtige liefde van ʼn vrou wat omgee vir hierdie kind wat, menslik gesproke, ʼn uitsiglose toekoms op aarde het.

In die geval van ds Solly asook dié van Ruth het gewone mense die liefde van Jesus vir kinders gestalte gegee. Dit was gewone mense, uit die aard van die saak verloste mense, wat uitgereik het na weerlose kinders en hulle met hulle handel en wandel ondersteun het te midde van hulle moeilike omstandighede.

Elke dag lees en hoor ons in die media van kinders wat te na gekom word. Dit ruk jou aan die hart. Maar dit is juis waar die uitdaging vir ons as gelowiges lê. Ons met uitreik, ons moet prakties raak in ons Christenskap. Ons moet gewoon uitreik en vir kinders wat oor ons pad kom soos Jesus raak. Ons moet meewerk dat sy koninkryk ook aanbreek in hulle lewens. Dit gaan nie net oor kinders wat ongelukkig is nie, maar ook oor kinders wat in ʼn stabiele omgewing woon en werk.

Ons as gelowiges het ʼn plig en ʼn verantwoordelikheid. Kom ons aanvaar die uitdaging om betrokke te raak.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS