Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 20

Vriendskap

Bybelteks(te)

SPREUKE 27

9Reukolie en wierook is iets om te geniet,

maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry.

SPREUKE 27:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het almal sekere foto’s wat altyd spesiaal sal bly. Daardie oomblik wat vasgevang is waar jy sélf in die foto is. Daardie oomblik in die kleine wat ʼn uitdrukking is van die groter prentjie.

Ek het so ʼn foto waar ek saam met my goeie vriend, kapt Tom Rautenbach, voor in die stuurkajuit van ʼn Boeing 737-800 sit. Hy, as die opleidingskaptein, sit aan die regterkant en ek mag in die kaptein se sitplek sit. Weet ek iets van vlieg af? Nee, glad nie, inteendeel.

Die foto vang egter iets van ons vriendskap vas. As vriend laat hy my toe om sy persoonlike ruimte binne te kom en deel daarvan te word, ten einde hom en sy omstandighede beter te verstaan. Hy deel met my sy liefde en passie vir sy werk. Hy laat toe dat ek hom verstaan binne sy groter konteks.

En dit is waarin die waarde van vriendskap lê – om toe te laat dat ons mekaar as vriende beter verstaan en om jouself oop te stel sodat die groter prentjie duideliker kan word. Dit is dan wanneer vriendskap genotvol raak. Dit is dan wanneer vriende mekaar in opregtheid kan ondersteun, kan uitreik na mekaar in tye van swaarkry en krisis, mekaar kan troos wanneer dinge skeefloop en kan help om emosies te temper. Dit is dan wanneer vriende saam die vreugdevolle tye van sukses kan deel sonder om afgunstig te wees, en net saam bly kan wees vir die ander persoon.

Talle mense gaan deur die lewe sonder vriende. Daar is baie redes waarom dit gebeur. Dit is ʼn groot jammerte. Vriende, en nie kennisse nie, is tog so noodsaaklik aangesien ons nie op ons eie deur die lewe kan gaan nie. Ons het ondersteuning nodig. En dit is hier waar vriende ʼn rol speel.

Goeie vriendskappe vra dat ons dit sal koester en daaraan sal werk, soos aan enige verhouding. Dit is ʼn uitdaging. Om die uitdaging te aanvaar is die moeite werd, dit weet ons uit ondervinding. Die vrugte op die harde werk is veelvuldig.

Hoe lyk jou verhouding met jou vriende?

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS