Die groter prentjie – dag 19
Omstandighede
Bybelteks(te)
PSALMS 62
In Bujumbura, Burundi besoek ek ʼn sentrum wat omsien na weeskinders. Hierdie jong kinders is MIV/vigs-wesies en dit gryp aan jou siel as jy tyd saam met hulle deurbring. So jonk en reeds alleen. Geen ma of pa nie.
Soos wat kinders maar is, wil hulle net gesels. Hulle praat Kirundi en die werkers daar tolk vir my. Hulle is energiek en meer as gewillig om vir ʼn foto te poseer. As jy boonop onmiddellik vir hulle die foto wys, soos moontlik is met ʼn digitale kamera, word daar gegil van plesier.
Ek neem ʼn seun af. Ek kan sien sy energievlakke is nie dieselfde as dié van die ander kinders nie. Skielik kom die gewaarwording by my op – hierdie seuntjie kan dalk MIV-positief wees. Dit is inderdaad die geval. Hy moet sy medisyne kry en my kamera kliek onophoudelik. Ek besef skielik dat hierdie foto’s nooit gebruik sal kan word nie. Die verhaal wat dit vertel is té seer. Dit sny té diep.
Ek as ʼn ouer word ook diep geraak. Ek sukkel om nie emosioneel te raak nie. Ek besluit om te kyk of ek nie ʼn besonderse foto geneem kan kry nie, maar ek sukkel.
Terwyl ek so werk maal hierdie teks in Psalm 62 deur my kop. Dit is ʼn teks wat ek al by ʼn paar geleenthede gedeel het met families wat in moeilike omstandighede verkeer. Dit is ʼn teks wat groot troos bring, want dit praat van ʼn anker. Daardie anker wat ons elkeen nodig het as dit onstuimig raak in ons lewens.
Die lewe veroorsaak dat ons elkeen ʼn rots en veilige vesting nodig het. Daardie plek waar ons kan gaan skuil as die winde woedend rondom ons tier. Daardie plek waarheen ons kan gaan met ons onsekerhede, ons hartseer, ons twyfel en ons onrus. Die psalmis kom met die belydenis en uitnodiging. God is daardie rots. God is die veilige vesting. Die uitnodiging is daar om na Hom te gaan. Durf ons die uitnodiging laat verbygaan?