Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 21

Afskeid

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 4

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

FILIPPENSE 4:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die afgelope maand het ons saam deur my kameralens na die wêreld en na onsself gekyk. Die Bybel het uiteindelik ons gedagtes gerig sodat alles sin kon maak. Ek vertrou dit was jou ervaring.

Ons kom nou aan die einde van die pad. Ek wil dit waag om te sê dat ons almal nou anders na ons foto’s sal kyk.

Daar is een vraag wat nog onbeantwoord is. Dié vraag is: Wat gaan die kamera vasvang as jy die onderwerp word van ʼn fotograaf? Wat gaan daardie persoon vasvang as hy jou moet afneem binne jou woon- en werksomgewing? Hoe gaan die kleiner prentjie lyk en hoe gaan dit inpas by die groter prentjie of die groter geheel?

Dit herinner my aan my besoek aan Parys, Frankryk. Die groter prentjie was die majestueuse Notre-Dame-katedraal, die kleiner prentjie wys dat dit niks meer as ʼn toeriste-aantreklikheid is nie.

Die vorige dag was ek in Torodi, Niger. Toe ek die “kerk” van buite afneem om die groter prentjie te kry van hoe gelowiges aanbid te midde van ʼn vyandige omgewing, was dit klein met grasmatte wat die mure en dak vorm. Die hele konstruksie was vormloos en vaal, tog het die kleiner prentjie vertel van ʼn gemeenskap van gelowiges wat ten spyte van bitter moeilike omstandighede gereeld bymekaarkom. Onbeskaamd en baie toegewyd.

Die lewe bestaan uit kontraste en dit is nie altyd maklik om dit te verwerk nie. Die kontraste van die lewe vra aanpasbaarheid; ʼn oop kop en emosionele aanpasbaarheid. En dit is wat Paulus vra. Hy vra, na my mening, positiewe denke en ʼn positiewe lewensingesteldheid.

Mag dit wees dat as ʼn kamera jou volg, die kleiner asook die groter prentjie hierdie beeld sal weerspieël – die beeld van iemand wat positief ingestel is en wie se gedagtes, handel en wandel dit reflekteer.

Mag dit waar wees van jou.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS