Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 18

Liggaam van Christus

Bybelteks(te)

1 KORINTIËRS 12

Een liggaam met baie lede

12Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.

1 KORINTIËRS 12:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Paar jaar gelede is die leerders by Laerskool Pabalelo in Upington tydens die Word Riders-toer besoek. Die opgewondenheid toe die 15 motorfietse brullend die skoolterrein binnery was sigbaar. Die kinders het soos vinke gekwetter. Dit gebeur immers nie aldag dat sulke besoekers by die skool opdaag nie.

Die graad 7-leerlinge ontvang hulle Bybels, en die Word Riders gesels belangstellend met hulle. Hulle kry ook twee Bybelseleksies, Waar staan dit in die Bybel en Ek is ook iemand, saam met die Uitreikbybels.

Die span geniet hierdie tyd van interaksie. Die kinders is opreg dankbaar vir wat hulle ontvang. Terwyl die kinders, wat uiters gedissiplineerd is, terugkeer klasse toe glip ek met my kamera by ʼn klaskamer in.

Wat ek daar sien verstom my. Dit is tjoepstil, die kinders sit op hulle stoele en lees. Van die kinders se nuwe Uitreikbybels is oop; ander weer, is verdiep in die Bybelseleksies wat hulle ontvang het.

Ek poog om hierdie atmosfeer vas te vang met my kamera. Ek weet byvoorbaat dat die kleiner prentjie nie die volle verhaal gaan vertel nie, maar ek probeer ten minste. Die groter prentjie – dat die kinders deel vorm van die liggaam van Christus – gaan verlore raak. Hierdie kinders is nie onbelangrik nie. Hulle gaan in die toekoms ʼn rol vervul binne die liggaam van Christus.

Toe ons daar uitry verwoord lede van die groep hulle gevoel van dankbaarheid. Dankbaarheid, omdat die een deel van die liggaam ʼn ander deel van die liggaam van Christus tot diens kon wees, omdat een groep kon uitreik na ʼn ander groep in ʼn gestalte van diensbaarheid.

Wat gaan hierdie kinders onthou van hulle ontmoeting met die klomp vreemdelinge wat hulle pad gekruis het? Ons hoop en glo dat hulle eendag sal besef: As lede van dieselfde liggaam is daar na mekaar in liefde en wedersydse respek uitgereik.

Ons is onlosmaaklik deel van die liggaam van Christus, ongeag waar ons onself bevind. Kom ons maak dit sigbaar in ons handel en wandel.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS