Die groter prentjie – dag 17
Berge
Bybelteks(te)
PSALMS 121
My hulp kom van die Here
Tydens ʼn besoek aan die Laeveld van Mpumalanga staan ons en kyk af op die Drie Rondawels en die Blyderivier. Daar is net een woord om die gesig te beskryf en dit is asemrowend.
Ons land is besonder geseënd met die mooiste berge. Hoë kranse, diep valleie en pragtige voetheuwels. Altyd besonders om op kamera vas te vang. Die Drakensberge vorm deel van hierdie wonderlike bergreekse en strek tot in Lesotho.
Tydens ʼn besoek aan Lesotho ry ons al op die kruin van die berge, verby mense wat karig geklee is in rubberskoene en met komberse om die skouers. Ons hou aan met die pad, selfs wanneer die teerpad ʼn grondpad word. Skielik wys die berge hulle onvoorspelbaarheid. Die miswolke sak oor ons neer, en dan verskyn daar ʼn perderuiter. Uit die niet, amper spookagtig. Die foto weerspieël die gevoel. ʼn Man alleen op pad.
Waar die grondpad ophou, ontmoet ons ʼn groep mense. Baie van hulle is veewagters. Sommige is bitter jonk. My kamera werk oortyd. Ons is daar om aan hulle die brood van die lewe te gee, maar toe hulle regte brood en vrugte kry is hulle vreeslik opgewonde. Die oorgawe waarmee die leë kolletjie in hulle mae gevul word sorg vir ongelooflike mooi, dog hartseer foto’s.
Die berge is pragtig, maar vir hierdie veewagters hou dit ook groot gevaar in. Daar is die wilde diere, die weerlig en die sneeu. Miskien is dit juis hierdie mense wat iets snap van wat dit beteken om op te kyk na die berge, om te wonder waarvandaan daar vir hulle hulp sal kom in hulle besonder uitdagende omstandighede. Hulle is immers ook pelgrims op pad.
Wat ʼn wonderlike wete: Die God wat my geskape het na sy beeld en gelykenis is so groot, Hy het die aarde in al sy majesteit geskape. Wat ʼn wete dat Hy in beheer is van sy handewerk. Ook van my en jou.
En as ons hulp nodig het, weet ons waarheen om te kyk.