Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 16

Bybel in my taal

Bybelteks(te)

PSALMS 119

105U woord is die lamp wat my die weg wys,

die lig op my pad.

PSALMS 119:105AFR83Maak oop in die Bybelleser

Seker een van die grootste uitdagings waarvoor Bybelgenootskappe te staan kom, is om betroubare, bronteksgebaseerde vertalings die lig te laat sien. Trouens, dit is die missie van die Bybelgenootskappe wêreldwyd om die Bybel te vertaal in die hartstale van die mense. Dit gaan egter nie net oor vertaal nie, maar ook daaroor dat hierdie vertalings opgetel en gelees sal word.

Met die aanvang van die isiNdebele-vertalingsprojek is daar baie foto’s geneem. Ons kon die storie vertel van die vertaalspan wat bymekaarkom in ʼn klein kantoortjie by die Universiteit van Pretoria en daar sit en werk – by rekenaars met verskillende Bybels en woordeboeke oop voor hulle.

Baie jare later kon ons weer die finale sessie op foto vasvang. Dit was dieselfde mense. Dieselfde span, net ʼn bietjie ouer en gryser. Al verdoesel sommige dit met haarkleur, is dit daar. Wat egter nie afgeneem het nie, is die passie en toewyding waarmee die projek aangepak is. Dieselfde liefde vir hulle taal is nog aanwesig by Peter Mabena en David Mahlangu. So ook by prof Andries Breytenbach, tevrede dat hy die taal wat hy as kind aangeleer het kon aanwend in diens van die Here.

Die isiNdebele-sprekendes het toegang tot die Nuwe Testament in hulle moedertaal gehad, maar nou kan hulle die hele Bybel in hulle hartstaal lees. Hulle kan inderdaad sê die Here se woord is die lamp wat die weg wys en die lig op hulle pad.

Ongelukkig is daar nog meer as ʼn duisend tale wat in Afrika gepraat word waarin daar nog niks van die evangelie op skrif is nie. Hierdie tale is die hartstale van mense, maar hulle is afhanklik van ʼn tweede of selfs ʼn derde taal om met die woord om te gaan. Dit is inderdaad ʼn geweldige behoefte wat bestaan.

Daar is verskeie projekte aan die gang om dié behoefte aan te spreek. As in gedagte gehou word dat dit tien jaar of langer kan neem om die Bybel te vertaal en dat dit derduisende rande kos om so ʼn projek te voltooi, is die uitdagings baie.

Daar is dus meer as genoegsame rede om ons Bybels te koester.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS