Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 15

My Bybel

Bybelteks(te)

MIGA 7

8Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand,

al het ek tot 'n val gekom, ek sal weer opstaan,

al sit ek in die donker, die Here is my lig.

Die Bybel, as die woord van God, is die metgesel van die gelowige op sy lewenspad. Die Bybel is die rigtingwyser, maar meer nog, dit neem die gelowige op die pad van heiligmaking, dit lei en begelei jou.

Tydens ʼn besoek aan Angola woon ek ʼn erediens by in Hoje-Ya-Henda, ʼn voorstad van Luanda. Ek verstaan nie veel van die verrigtinge nie, my Portugees is nie baie goed nie, maar wat my opval is die verslete Bybel wat op die trom langs die vrou wat die tromslaner is, lê. Dié Bybel vertel ʼn storie van ʼn gebruikte boek. Daar is merke by versies, die omslag is weg en die bladsye krul om van al die gebruik. Maar dit word trots kerk toe gebring. Die Bybel is belangrik. En my kamera vang die besonderse prentjie vas.

Danie Viviers skryf vir my en vertel van die rol wat die Bybel in sy lewe vervul. Hy skryf: “As jy in die sonsondergang van jou lewe kom en jy blaai deur jou onderstreepte Bybel, sien jy die volledige legkaart van jou lewe en dan eers begryp jy die pad wat die Here met jou geloop het.”

Vandag is die Bybel in soveel formate beskikbaar – van Uitreikbybels tot Selfoonbybels, van gedruk op papier tot digitaal, asook in die kuberruim. Daar is amper nie meer ʼn verskoning om nie ʼn Bybel te besit nie.

En tog is daar so baie mense in ons land wat nie ʼn Bybel het nie, gewoon omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Mense vir wie ʼn Bybel net te veel kos.

Die Bybelgenootskap stel Uitreikbybels gratis aan Graad 7-leerders in ons land beskikbaar. Dit is ʼn poging om werklik ʼn verskil te maak in jongmense se lewens.

Hopelik sal hierdie Bybels jongmense help om op te staan in tye van afvalligheid, om staande te bly in die aangesig van versoeking en om aan die einde van hulle lewenspad op aarde te sien hoe God vir hulle lig gebring het.

Hoe lyk jou Bybel?

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS