Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 14

Wysheid

Bybelteks(te)

KOLOSSENSE 4

5Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid.

KOLOSSENSE 4:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tydens ʼn besoek aan ʼn skool in Niamey, Niger, ʼn land waar 99% van die bevolking aan die Moslemgeloof behoort, staan ek verwonderd oor wat Christene doen en regkry. Daar is meer as 500 kinders in dié skool en slegs tien van die kinders kom uit Christenhuise. Hierdie skool is ook ʼn kerkskool en al die onderwysers is Christene.

Die hoof vertel met groot deernis wat hulle uitgangspunte is in die land wat besondere eise aan Christene stel. Dit blyk dat die skool onbeskaamd Christelik is, maar terselfdertyd topgehalte onderwys bied. Hierdie twee sake is ononderhandelbaar. Aan die ander kant is dit tog die tipe optrede wat ʼn mens van gelowiges sou verwag. Elke oggend word ʼn Bybelles aangebied en die kinders leer en sing Christelike liedere voordat die normale onderrig ʼn aanvang neem.

Die ouers wat nie gelukkig is met die onderrigmetodiek nie, kan hulle kinders uit die skool neem. ʼn Hartseer aspek van die land is dat hulle hele onderwysstelsel vir alle praktiese doeleindes in duie gestort het. Daar is nie baie keuses ten opsigte van skoolopvoeding nie.

Ek merk geen greintjie arrogansie of leedvermaak by die hoof of onderwysers op nie. Christenskap is hulle erns en die uitlewing daarvan ʼn prioriteit. Hulle bring die boodskap helder en duidelik, sonder om aanstoot te gee. Daar is geen dwepery nie.

Soos kinders maar is, neem hulle met oorgawe deel aan die fotonemery. ʼn Klompie seuntjies kom met narrestreke vorendag terwyl sommige dogtertjies vreeslik skaam is. Ek kry die mooiste kleurvolle foto’s – foto’s van gelukkige kinders.

Geleenthede om ʼn getuienis te lewer is iets wat elke dag oor ons pad kom. Geleenthede verskyn ook dikwels op die mees onwaarskynlike tye. Van ons as gelowiges vra dit dat ons regtig ingestel sal wees op dié geleenthede en dat ons voorbereid sal wees om ʼn getuienis te lewer. Dit vra dat ons sensitief en met wysheid sal optree, met ʼn sagte hand sal werk en dat die liefde van Christus Jesus in en deur ons optrede sigbaar sal word. Soos die spreekwoord lui: “Woorde wek, maar voorbeelde trek.”

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS