Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 13

My storie

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 1

29God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.

FILIPPENSE 1:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Lyding neem baie vorme aan. Lyding kan die gevolg wees van siekte, armoede of selfs verwerping as gevolg van jou belydenis. Lyding in al sy verskillende vorme skep uitdagings.

As fotograaf word jy dikwels gekonfronteer met die gevolge van lyding in die wêreld, veral as jy dit wil vasvang. Gewoonlik is dit mense wat met ʼn moedige glimlag vir jou wil laat verstaan alles is reg, totdat jy die kamera eenkant toe skuif. Sodra jy dit doen, word daar diep en ernstig gesels. Dan kom die seer wat dikwels vlak sit vinnig na die oppervlak en word al die implikasies verwoord.

Tydens my omswerwinge besoek ek ʼn groep mense in Rwanda. Ons is hoog in die berge, ver van die hoofroetes. Van die mense begin na aanleiding van hulle nood en omstandighede met my gesels. Die verhale wat hulle vertel, getuig van leeuemoed en ʼn groot geloof. Dit getuig van mense wat vashou aan God in Christus om vir hulle te voorsien en uitkoms te gee.

“Wat gaan jy vir ons doen?” vra hulle my. Dit konfronteer my dadelik met wie ek is en wat ek probeer doen. Ek kyk hulle in die oë en antwoord: “Al wat ek kan doen is om julle storie te vertel. En dit gaan ek doen na die beste van my vermoë. Wat daarna gaan gebeur weet ek nie.”

Was dit genoeg? Miskien nie, maar materieel kon ek nie veel doen nie. Die feit dat ek na hulle geluister het, het dalk tog vir hulle ʼn geleentheid gegee om dit wat hulle in die hart saamdra, te verwoord.

Later besef ek dat hierdie groep mense ʼn geweldige positiewe invloed op my lewe gehad het. Die rede is eenvoudig: Die getuienis wat hulle geleef het in hulle lyding was navolgenswaardig. In hulle lyding kon hulle steeds lof en eer aan God bring. In hulle lyding het hulle hul geloof geleef.

Baie van ons ervaar lyding, en ook kruis ons paaie met mense wat lyding ervaar. Die vraag wat dadelik by ons moet opkom, is: “Wat sien mense as hulle paaie met myne kruis? Wat ervaar hulle?” Christus?

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS