Die groter prentjie – dag 12
Eie Bybel
Bybelteks(te)
MATTEUS 25
Daar is ʼn groep motorfietsryers wat jaarliks onder die vaandel van die Bybelgenootskap bymekaarkom en met hulle motorfietse toer om Bybels in agtergeblewe gemeenskappe te plaas. Hulle noem hulself die Word Riders. Tydens die eerste Word Riders-toer besoek die groep ʼn plaasskool buite Ladysmith in KwaZulu-Natal. Die leerders by Laerskool Umvolu kom van die omliggende plase af.
In hulle moedertaal word die Graad 7-leerders wat die isiZulu Uitreikbybels gaan ontvang, aangespoor om erns te maak met die lees van die Bybel en die boodskap wat hulle daaruit kry in hulle lewens te gaan toepas. Die kinders se gesiggies is baie ernstig. Hulle besef die erns van die oomblik. My kamera kliek onophoudelik en toe die verrigtinge afgesluit word met die opsê van die Ons Vader-gebed in Afrikaans, is almal bewoë.
Die groep het ook ʼn paar isiZulu Kinderbybels saamgeneem. Een van die lede van die groep vat die Bybels en gee dit aan die paar jonger kinders wat vir hulle ouer boeties en sussies moes wag. Die dankbaarheid en opgewondenheid kan nie weggesteek word nie. Hulle oë vertel die storie.
Ek neem ʼn foto van een van ons motorfietsryers saam met twee van die jonger kinders. Sy groot arms omvou hulle en in sy oë sien ek net liefde – die liefde van Christus wat deur hom na vore kom in hierdie gebaar van ontferming.
Ek dink aan dié vers in Matteus 25. Hierdie kinders is voorwaar van die geringstes. Hoe kan ons anders as om na hulle uit te reik? Die liefde van Christus dring ons mos.
Daar is baie geringes in ons samelewing, en hulle lyk almal verskillend en is in verskillende posisies. Mense wat nie het wat ons het nie, wat nie so bevoorreg is soos ons nie. Mense wat dalk nie noodwendig net na die materiële smag nie, maar ook na geestelike voedsel en geestelike welstand. Hoe kan ons ʼn geleentheid om uit te reik laat verbygaan?