Bible Society of South Africa
Francois Sieberhagen

Die groter prentjie – dag 11

Omgee

Bybelteks(te)

JAKOBUS 2

8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg.

Joyela is net ʼn spikkel op die landkaart van Swaziland. By die Matjetjeni Care Point, wat niks anders is as ʼn geboutjie met ʼn dak op nie, ontmoet ek die wonderlikste mense. Vroue vanuit die gemeenskap wat inkom en vir ʼn groep kinders onderrig gee. Hierdie kinders kan nie die gewone skole bywoon nie. Hulle kan dit nie bekostig nie. Hier kry hulle iets om te eet en word hulle geleer om te lees en skryf. Niks meer nie.

Dié kinders kom uit baie armoedige omstandighede en in hulle gemeenskap het die gevreesde siekte kwaai toegeslaan. Bongiwe Shongwe is skaars nege jaar oud en sy het ʼn mooi oop gesig met die pragtigste glimlag. Sy is ook nie skaam om vir my model te speel nie. Sy glimlag van oor tot oor. Sy geniet die aandag soos net ʼn kind kan. Terwyl ek die foto’s neem, wonder ek oor haar toekoms. Wat gaan van hierdie dogtertjie word? Gaan sy al die geleenthede kry wat sy verdien? Gaan sy so gelukkig wees om die gevreesde siekte vry te spring?

Ek kry ook kans om die groter prentjie vas te vang – dié van mense wat omgee en prakties hulp verleen. Mense wat bereid is om op te offer, om iets terug te ploeg in hulle samelewing, om hulle geloof prakties te vergestalt.

Ons almal weet dat naasteliefde nie gaan oor die vraag wie my naaste is nie, maar eerder oor vir wie ek ʼn naaste kan wees. Soos in Joyela, is daar derduisende gelowiges wat landwyd daagliks na ander uitreik. Hierdie uitreike vind op verskillende wyses plaas maar al die projekte het een gemene deler, naamlik die gehoorsaamheid aan die opdrag van Jesus: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Hierdie opdrag vra selfopoffering en ʼn geopende geloofsoog om nood en behoeftes raak te sien. Hierdie opdrag vra dat ek buite my gemaksone sal beweeg en betrokke sal raak, tydig en ontydig.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS