Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 9 Oktober

As abnormaal normaal word

Bybelteks(te)

KLAAGLIEDERE 3

21Maar dít sal ek ter harte neem

en om dié rede bly ek hoop:

22deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;

daar is geen einde aan sy ontferming nie,

23dit is elke môre nuut.

U trou is groot.

24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,

daarom hoop ek op Hom.

25Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,

vir die mens wat na sy wil vra;

26dit is goed om geduldig te wag

op die hulp van die Here;

27dit is goed vir 'n mens

om sy las in sy jeug te dra.

28Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly

as God hom die las opgelê het,

29laat hy hom diep verootmoedig

– miskien is daar hoop –

30laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,

laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

KLAAGLIEDERE 3:21-30AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek hoor ’n rukkie gelede iemand sê: Normaal is ’n verstelling op ’n wasmasjien. Dit is waar. Want wat is normaal? Die een se normaal is dikwels die ander se abnormaal. Die afgelope jaar of wat het Covid-19 wat vir ons abnormaal was, die norm geraak. Voor Maart verlede jaar was die abnormale tyd wat ons op selfone, rekenaars en voor die TV deurgebring het, in die brandpunt. Die impak van die seine en strale was ’n vuurwarm besprekingspunt. Toe raak hierdie gesprek vergete namate skerms die voorkeur (soms die enigste) manier van sosiale en professionele kontak geword het.

Abnormaal skud die fondamente van ons leefwêreld. Dit maak mense angstig en gedisoriënteerd. Die vraag is egter: Hoe werk ons daardeur? Hoe oorleef ek in my gemoed? Hoe behou ek geloof?

Ons lees in Klaagliedere hoe Israel destyds in so ’n bestaanskrisis gedompel is. Die Babiloniërs het die Godstad, Jerusalem, vernietig. Tydens die beleg het honderde van honger omgekom. Met die inname is baie mense doodgemaak, vroue is in die strate verkrag.

En tog, die skrywer gee nie leë beloftes dat alles goed sal gaan nie. As ’n krisis met soveel hartseer, pyn en ontwrigting gepaard gaan, moet dit deur-gely word. Dis amper soos die rouproses waardeur ’n mens moet gaan as jy iemand aan die dood moes afstaan. Deur met my beklagings na die Here te gaan, help dit my in die proses om die onverstaanbare, die abnormale normaal, deur te werk. Dis wat die vyf Klaagliedere in die boek wil doen. In Engels word Klaagliedere Lamentations genoem, want dit verwys na die proses van lamenting – ’n beskrywing van jou hartseer en smart sodat jy as’t ware daardeur kan ly.

Kom ons praat met die Here oor ons angs en onsekerheid. Die hele boek Klagliedere is ’n gebed waarin die skrywer sy klagtes passievol verwoord. Vir hulle wat in gebed die Here vasgryp, is daar hoop op die toekoms!

Hemelse Vader, in veranderde tye bring ons ons onsekerheid na U toe. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS