Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 10 Oktober

Glo soos ’n kind?

Bybelteks(te)

MARKUS 10

15Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

MARKUS 10:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

As iemand moeilike dinge in die Bybel nie verstaan nie, hoor ons dikwels dat die persoon sê hy of sy glo soos ’n kind. Die Bybel leer ons so. Ons behoort nie te vra nie en net te aanvaar. Soos ’n kind. Hiermee het ek twee probleme: As glo soos ’n kind beteken jy moet alles aanvaar soos dit aan jou voorgehou word, het ek in my lewe net met wesens wat hulle as kinders voorgedoen het, van ’n ander planeet af, te doene gekry. Want kinders vra vrae! Ongemaklikes! Sommer baie daarvan!

My grootste probleem egter is dat ek nêrens in die Bybel so ’n verwysing raaklees nie! Nie eens met slegte eksegese nie! In Markus 10: 15 (en die ekwivalente gedeeltes in die ander Evangelies) word wel melding gemaak dat volgelinge van Jesus die koninkryk soos ’n kindjie moet ontvang. Dit is egter iets anders as om soos ’n kind te glo.

Om te verstaan wat Jesus hier bedoel, moet ons iets verstaan van die leefwereld van daardie tyd. ’n Kind was ’n NIKS. Sy kans om 16 te word, was skraal. ’n Pa het eers na die geboorte van ’n kind besluit of hy sy kind sal aanvaar of nie. Baie onwelkome kinders is as slawe verkoop. Ons lees selfs van gemeenskappe waar kinders op ashope gegooi is! (Gelukkig was dit darem nie heeltemal so erg in die Joodse gemeenskap nie.) Nogtans was kinders weerloos en totaal afhanklik van die liefde en versorging van grootmense.

Om die koninkryk te aanvaar soos (hierdie) kinders, beteken dat ek geen verdienste of aanspraak kan aanbied om die koninkryk te verdien nie. In dankbaarheid, uit genade, sonder verdienste, ontvang ons die koninkryk as ’n geskenk uit die hand van God.

Om vrae te vra en krities te wees, is toe nou nie ’n teken van ongeloof en disrespek nie. Dit plaas jou in die geselskap van Job, Habakuk, Dawid, Salomo, Luther, Barth, Bonhoeffer, en ’n magdom ander gelowiges.

Dankie, Here, dat ek vir U kan lief wees met my hele hart, siel en my verstand, Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS